Skaflike Lions verduur slae teen Ulster

Die Lions is in Belfast met 24-17 deur Ulster geklop. (Foto: Ulster Rugby/Twitter)

Die Lions se rugbyspan is nog ver van die volmaakte produk af, maar ná ʼn paar seisoene aan die diepkant het die spelers se vaardighede al hoe meer verbeter.

Die Lions is Vrydagaand in Belfast weliswaar met 24-17 deur Ulster geklop, wat die voortou in die seisoen se Verenigde Rugbykampioenskap geneem het.

Dit was uiters goor toestande vir rugby, want dit het deurentyd hard gereën, maar tog het die Lions by die omstandighede aangepas en goeie rekenskap gegee.

Die span was lank met 7-0 voor en het rustyd met ʼn voorsprong van 14-7 gedraai. Om dít in gietende reën reg te kry voor Ulster se tuisskare in die Kingspan-stadion wil gedoen wees.

Teen die einde was daar weinig verskil tussen die twee spanne. Inteendeel, soms het dit gelyk asof die Lions meer gewoond daaraan is om in reën te speel.

Die Lions se groot uitblinkers was die losskakel Sanele Nohamba (hy is eintlik ʼn skrumskakel), die woelige vleuel Edwill van der Merwe, die senters Hencus van Wyk en Marius Louw, met voorlangs die strydros Willem Alberts, asook die hardwerkende flank Hanru Sirgel.

Sirgel, wat deur die Griekwas aan die Lions geleen word, sal heel waarskynlik in die Lions se visier bly, want dié oud-Tukkie is ʼn baie groot aanwins.

Hy het Vrydagaand die meeste duikslae (16) uitgevoer, ʼn drie gedruk en Ulster se besit stadig gemaak.

Die Lions, wat verlede naweek teen die Walliese Ospreys gewen het, kan heel tevrede met hul oorsese toer wees.

Hulle is nie binne trefafstand van die voorlopers nie, maar is tiende van 16 spanne en gerieflik voor die Sharks (1 punt) wat baie op hul toer gesukkel het en laaste op die puntelys is.

Die Lions het in vyf wedstryde 83 punte aangeteken en tien drieë gedruk, teenoor die Sharks se 49 punte en slegs ses drieë in hul eerste vier wedstryde.

Die Lions, wat Saterdag huiswaarts keer, speel komende naweek teen die Italiaanse Zebre-span op Ellispark.

As hulle kan voortbou op hul skaflike vertonings oorsee, kan die vlam verder brand.

Puntemakers: Ulster 24 (7): Drieë: James Hume, Jacob Stockdale, Rob Herring. Doelskoppe: Nathan Doak (3). Strafdoel: John Cooney.

Lions 17 (14): Drieë: Richard Kriel, Hanru Sirgel. Doelskop: Sanele Nohamba (2). Strafdoel: Nohamba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.