Soet vir Griekwas en Pumas; suur vir Cheetahs en WP

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: hirobi/Pixabay)

ʼn Week is ʼn baie lang tyd in rugby.

Dit het die Vrystaat-Cheetahs agtergekom nadat hulle twee agtereenvolgende nederlae in die Curriebekerreeks gely het nadat hulle voor verlede naweek in nege opeenvolgende wedstryde onoorwonne was en die pas aangegee het.

Hul buurman, Griekwas, was daarenteen met die rug teen die muur en ʼn uitspeelwedstryd het buite hul bereik gelyk.

Maar Vrydagaand is die kaarte opnuut deurmekaar geskommel toe die Pumas ʼn sege van 29 – 28 oor die Cheetahs in Bloemfontein behaal het en Griekwas die Westelike Provinsie met 43 – 41 in Stellenbosch gemesmeraais het nadat hulle kort voor rustyd nog met 7 – 35 agter was.

Die Cheetahs is steeds tweede op die puntelys (43) punte, maar om eerste te eindig vir ʼn moontlike eindstryd tuis, sal hulle die Bulle (47) in hul laaste wedstryd moet omdop en van ʼn bonuspunt weerhou.

Griekwas (31) is verseker van hul plek in die halfeindronde terwyl die Pumas (27) bo die Haaie (24) kan eindig.

Wanneer ʼn mens van Griekwas se rugbyspan praat, dink jy onwillekeurig terug aan 1970 toe die Poubloues teen alle verwagtinge in die sterbelaaide Noord-Transvaal met 11 – 9 in die Curriebeker-eindstryd in Kimberley geklop het.

Mannetjies Roux, Buddy Swartz, Piet Visagie, Joggie Viljoen en die twee Smith-broers, Peet en Tos, het dié dag die kollig by die Ligbloues gesteel.

Niemand het hulle ʼn kans gegee nie, maar hulle het hul aan geen draaiboek gesteur nie.

Draai die horlosie aan na sewe dae gelede toe die Poubloues so te sê uit die wedloop was om vir die halfeindronde te kwalifiseer. Maar toe behaal hulle ʼn skokoorwinning van 46 – 18 oor die Cheetahs om die agterdeur so effens oop te skop om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer.

Vrydagmiddag in Stellenbosch het hulle weer ʼn hoofstuk by hul sprokiesverhaal teen die WP geskryf.

WP was met 35 – 7 in die eerste helfte (rustyd 35 – 19) voor en het die voorsprong tot 41 – 19 gerek.

Griekwas was platgeslaan, maar niemand het met hul veggees en passie (soos in 1970) tred gehou nie, want in die sesde minuut van bykomende speeltyd het Luther Obi sy tweede drie gedruk om sy span met 43 – 41 te laat wen.

Punte:

Griekwas 43 (19): Drieë: Rynhardt Jonker, Sango Xamlashe, Munier Hartzenberg, Janco Uys, Luther Obi (2), Hanru Sirgel. Doelskoppe: George Whitehead (4).

Westelike Provinsie 41 (35): Drieë: Tristan Leyds, Jacques van Zyl, Juan de Jongh, Angelo Davids, Tim Swiel. Doelskoppe: Tim Swiel (5). Strafdoele: Swiel (2).

* Die Vrystaters kon die Pumas met ʼn doodsnikstrafdoel geklop het, maar Ruan Pienaar se skop het regs verby die doelpale geskuif.

Ja, hulle is in die halfeindronde en ja, hulle sal tuis in die halfeindronde speel, maar die druk is nou vierkant op hulle om die Bulle uit die eerste plek te dwing vir ʼn tuiseindstryd.

Die Cheetahs se glans het ewe skielik verdof. Hul vermoë om drieë van enige plek af te druk, is op die rak geplaas en daar sal nou baie diep gedelf moet word.

Die Pumas, wat seisoen ná seisoen om amperse oorlewing veg, verdien ʼn kans in die uitspeelrondes.

Hulle word baie goed afgerig, het ʼn klein spelersbegroting, diepte is soms maar skraps, maar hulle gaan, net soos Griekwas, ook nooit lê nie.

Punte: Pumas 29 (14): Drieë: Devon Williams (2), Tinus de Beer, Eduan Swart. Doelskoppe: Eddie Fouché (3). Strafdoel: Fouché.

Vrystaat-Cheetahs 28 (7): Drieë: Louis van der Westhuizen (2), Gideon van der Merwe, Daniel Kasende. Doelskoppe: Ruan Pienaar (4).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Die Cheetas se oupa spelers kan nie die pas volhou nie, piek altyd vroeg in die seisoen maar die wiele kom af na n tyd.

Jakes ·

Daar word geen melding gemaak van die Leeus wat die Haaie in Durban n pakslae gegee het nie. Geluk Leeus, welgedaan. Dit is egter duidelik dat die Haaie se CB span nie die halfeindstryde gaan maak nie en dis toe te skryf aan n swak afrigtingsspan wat substandaard is. Ek is seker dat Edward Coetzee sekerlik in staat is om beter aanstellings te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.