Stormers doen dit wéér

Ruhan Nel draf deur vir sy drie. Die Stormers het die Bulls met 26 – 20 geklop. (Foto: X/Stormers)

Die Stormers-rugbyspan het reeds vandag sy Kersgeskenk gekry toe hy die Bulls met 26 – 20 in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd op die DHL-stadion geklop het.

Dit was die Stormers se sewende agtereenvolgende oorwinning teen die Pretorianers in dié kompetisie.

Die eerste helfte was ʼn aksiebelaaide affêre met ʼn Manie Libbok-strafskop en ʼn Damian Willemse-skepskop wat vir die aanvanklike Stormers-momentum gesorg het.

Daarna was dit egter punte Pretoria: Reinhardt Ludwig het die eerste drie van die wedstryd gedruk, waarna Kurt-Lee Arendse sy sokkervaardighede uitgestal het om die tuisspan se verdedigers te flous.

Skielik het die Bulls die hef in die hand gehad, maar Gerhard Steenekamp se geel kaart – sy skouer het Neethling Fouché in die gesig getref – het die besoekers se momentumtrein so ʼn bietjie ontspoor.

Die Stormers kon deur Jean-Luc du Plessis en Libbok terugslaan en teen rustyd het hulle weer ʼn voorsprong van 16 – 10 geniet.

Tussendeur alles is twee van hul driedrukpogings ook nie toegeken nie.

Deon Fourie se knieg-op-die-grond-beweging het vir hopeloos te veel veerkrag naby die doellyn gesorg, terwyl Suleiman Hartzenberg se voet op die lyn gerus het nadat hy ʼn skop uit die lug gepluk het.

Die Bulls spog met ʼn baie gevaarlike agterste driehoek in Willie le Roux, Canan Moodie en Arendse en hulle het vroeg in die tweede helfte hul stempel op die kragmeting afgedruk.

Le Roux se skerpskutter-aangee het vir Moodie gevind wat in die hoekie oorgeduik het.

Die besoekers se vreugdevure het egter skaars vlamgevat of Ruhan Nel het dit weer geblus toe hy die tuisspan se tweede drie gedruk het.

Chris Smith was in die 72ste minuut in die kol met ʼn strafskop, maar die Bulls het te veel gehad om te doen en hul wenuurglas het leeggeloop.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Jean-Luc du Plessis en Ruhan Nel. Doelskoppe: Manie Libbok (2). Strafskoppe: Libbok (3). Skepskop: Damian Willemse.

Bulls: Drieë: Reinhardt Ludwig, Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie. Doelskop: Johan Goosen. Strafskop: Chris Smith.

  • Spanne:

Stormers: Damian Willemse, Suleiman Hartzenberg, Ruhan Nel, Jean-Luc du Plessis, Leolin Zas, Manie Libbok, Paul de Wet, Hacjivah Dayimani, Ben-Jason Dixon, Deon Fourie (kaptein), Ruben Fourie, Adre Smith, Neethling Fouche, Joseph Dweba en Sti Sithole. Plaasvervangers: André-Hugo Venter, Ali Vermaak, Brok Harris, Connor Evans, Willie Engelbrecht, Keke Morabe, Stefan Ungerer en Clayton Blommetjies.

Bulls: Willie le Roux, Canan Moodie, Stedman Gans, David Kriel, Kurt-Lee Arendse, Johan Goosen, Embrose Papier, Cameron Hanekom, Elrigh Louw (kaptein), Marco van Staden, Reinhardt Ludwig, Janko Swanepoel, Wilco Louw, Akker van der Merwe en Gerhard Steenekamp. Plaasvervangers: Jan-Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Mornay Smith, Deon Slabbert, Mpilo Gumede, Keagan Johannes, Chris Smith en Sebastian de Klerk.

  • VRK-uitslae tussen Stormers en Bulls:

22 Januarie 2022: Stormers 30 – 26 Bulls

9 April 2022: Stormers 19 – 17 Bulls

18 Junie 2022: Stormers 18 – 13 Bulls (eindstryd)

23 Desember 2022: Stormers 37 – 27 Bulls

18 Februarie 2023: Stormers 23 – 19 Bulls

6 Mei 2023: Stormers 33 – 21 Bulls

23 Desember 2023: Stormers 26 – 20 Bulls

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.