Stormers trap klei teen Cardiff

Cardiff het die Stormers in die doodsnikke van hul VRK-wedstryd geklop. (Foto: X/Cardiff Rugby)

Al ooit gewonder hoe ʼn span die openingsalvo’s van ʼn wedstryd oorheers én ʼn voorsprong van 14–0 deur sy vingers laat glip om die kragmeting uiteindelik te verloor?

ʼn Mens kan dié vraag beslis vir die Stormers vra nadat die Kapenaars Vrydagaand met 31–24 teen Cardiff verloor het.

Die Stormers het uitstekende rugby vir die eerste 20 minute van die wedstryd gespeel, maar daarna het hulle net stoom verloor en die tuisspan – wat toe met nuutgevonde ritme begin speel het – het hulle op die telbord gestraf.

Hoewel daar tekens van ʼn Kaapse herlewing vroeg in die tweede helfte was, het hulle weer die voet van die versnelpedaal gehaal en Rhys Litterick se drie in die doodsnikke het die kragmeting vir Cardiff beklink.

Dit was die Stormers se vierde nederlaag op ʼn streep en hul laaste Verenigde Rugbykampioenskap-oorwinning was op 28 Oktober teen die Scarlets op die Danie Craven-stadion.

  • Puntemakers:

Cardiff: Drieë: Gabriel Harmer-Webb, Liam Belcher, Mason Grady en Rhys Litterick. Doelskoppe: Tinus de Beer (4). Strafskoppe: De Beer.

Stormers: Drieë: Ruhan Nel (2) en Andre-Hugo Venter. Doelskoppe: Sacha Feinberg-Mngomezulu (3). Strafskop: Feinberg-Mngomezulu.

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster: 20 punte ná vyf wedstryde
  2. Glasgow Warriors: 20 punte ná vyf wedstryde
  3. Ulster: 18 punte ná vyf wedstryde
  4. Connacht: 18 punte ná vyf wedstryde
  5. Edinburgh: 18 punte ná ses wedstryde
  6. Benetton: 18 punte ná ses wedstryde
  7. Munster: 17 punte ná vyf wedstryde
  8. Bulls: 15 punte ná vyf wedstryde
  9. Cardiff: 14 punte ná ses wedstryde
  10. Stormers: 13 punte ná ses wedstryde
  11. Zebre: 11 punte ná vyf wedstryde
  12. Ospreys: 10 punte ná vyf wedstryde
  13. Lions: 9 punte ná vyf wedstryde
  14. Dragons: 6 punte ná vyf wedstryde
  15. Scarlets: 6 punte ná vyf wedstryde
  16. Sharks: 2 punte ná vyf wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.