Stormers waai Leeus van hul voete

Foto: Twitter.

Anders as met die bekende Toyota-advertensie het niks reg vir die Leeus in Kaapstad geloop nie. Die Stormers het die Johannesburgers in ’n voorbereidingswedstryd vir die komende Rainbow-beker met 44–12 verrinneweer.

Ja, daar is weliswaar geen silwerware op die spel nie, maar ’n drag slae is nooit lekker nie en die Leeus gaan beslis hul wonde ná dié ene lek.

Net soos wat die Haaie die afgelope Vrydag teen die Bulle in Durban gemaak het, het ’n blitzkrieg in die eerste helfte die Leeus op die agtervoet geplaas.

Herschel Jantjies het binne 30 sekondes die Kapenaars se eerste drie van die wedstryd gedruk en ná 80 spelminute het hy bykans met ’n driekuns van die veld gestap.

Sy derde drie is egter nie toegelaat nie omdat sy voet die kantlyn geraak het net voordat hy oor die doellyn geval het.

Saam met Seabelo Senatla en Abner van Reenen – wat die een stelskop ná die ander deur die pale gejaag het – het die Stormers ’n rustydvoorsprong van 24–0 geniet.

Daarbenewens het Evan Roos ook gewys dat hy Juarno Augustus se skoene op agtsteman kan volstaan.

Die jong speler het met sy fisieke spel beïndruk en hy kan van groot waarde op die nat velde van Europa wees.

Daarteenoor was die Leeus hul eie grootste vyande.

Die Johannesburgers se hanteerwerk was power en belowende aanvalsgeleenthede is male sonder tal deur aanslane gekniehalter.

Dan het die Stormers ook te maklik gate in die Leeus se verdediging gevind. Dit is lekker vir rugbyondersteuners wanneer daar ’n paar drieë in ’n wedstryd gedruk word, maar ’n mens waardeer ook ’n goeie têkkel of twee.

Die twee spanne speel op 8 Mei teen mekaar in die Rainbow-beker.

  • Puntemakers:

Stormers: Herschel Jantjies (2), Seabelo Senatla, Bongi Mbonambi en Ruhan Nel. Doelskoppe: Abner van Reenen (5). Strafskoppe: Van Reenen (2). Skepskop: Van Reenen.

Leeus: Drieë: Strafdrie en MJ Pelser.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans ·

Terwyl die twee kusspanne min of meer weet wie hul gaan speel in die Rainbow-beker eksperimenteer
die twee noordelike spanne nog steeds.Die Leeus het as kombinasies agterlangs misluk en dit het begin by hul sukkel en beseerde losskakel.
Waarom Jantjies aanhoudend gespeel word sal net die afrigters weet.Die Stormers sal oorsee nie weer gou teen spanne speel met sulke swak verdedigingsplanne nie.Bestaan man op man verdediging nie meer nie en agterspelers voorspelers maklik klop waar is die agterspelers of is dit oudmodies om te sê dat een van jou pligte as speler is om te keer dat jou direkte opponent nie amok om die veld maak nie.

Casper ·

Dit was ‘n onafgerigde leeus span wat nie op die veld moes gewees het nie.Ek wonder wie is die afrigter.

Chris dupreez ·

Net wat die stormers nodig gehad het, xolisi se vertrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.