Stormers wil VRK-vonkelwynproppe laat klap

Die Stormers se spelpeil gee tans vir hul ondersteuners ’n rede om fees te vier. Foto: Hansie Linde.

Op die speelveld is die Kaap beslis nog Hollands vir die Stormers.

John Dobson se span is vir ʼn tweede keer op ʼn streep die wenner van die Suid-Afrikaanse afdeling van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) ná ʼn rits goeie vertonings teen plaaslike en oorsese spanne.

Hoewel die verwikkelinge die Stormers-breier ietwat onkant betrap het – daar is immers nog drie groepwedstryde oor – is dit beslis ʼn baie welkome verrassing.

Verlede jaar kon hulle eers dié prestasie in die 80ste minuut van hul laaste groepwedstryd teen die Scarlets in Llanelli vermag toe Ruhan Nel se drie die afdelingskaal uiteindelik in hul guns geswaai het.

“Ons het dit glad nie nou al verwag nie en dit is iets wat nie té hoog op ons prioriteitslys was nie. As ʼn span het ons wel gereeld gepraat oor ons doelwit om ons stempel teen al die plaaslike spanne af te druk en ons het hard gewerk om dit te bereik,” het Dobson gesê.

Die Kapenaars het onder meer met die Lions (31–22 en 40–8), die Bulls (37–27 en 23–19) en die Sharks (46–19 en 29–23) afgereken.

“Die afrigterskorps verdien beslis ʼn klop op die skouer. Daarbenewens is Deon [Fourie] en Steven [Kitshoff] twee kapteins van wêreldgehalte wat aan die stuur van ʼn wonderlike groep spelers staan.”

Dobson is veral in sy noppies met die spelersdiepte wat nou in die Kaap is.

(Foto: Hansie Linde)

“Verlede jaar het ons met baie spelers gesit wat ongelooflik baie minute op die speelveld deurgebring het. Nou beskik ons oor ʼn groot groep spelers wat in die verskillende posisies kan diens doen.”

Dit is egter nie net goeie spelerbestuur wat vir sukses op die veld sorg nie. In Fourie het die Stormers nie net ʼn goeie leier nie, maar die 36-jarige Springbok kan ook na hartelus omgekeerde balbesit bewerkstellig.

Dan sorg Manie Libbok, Leolin Zas, Clayton Blommetjies en kie vir ʼn baie gedugte agterlyn. Daar is immers min dinge so mooi (en gevaarlik) soos die Stormers-agterlyn op volle vaart.

Dobson weet egter dat die pad na ʼn moontlike tweede titel nie te maklik sal wees nie; daar wag boonop nog taai groepwedstryde teen Leinster en Munster op sy spelers.

Maar sjoe, as die Stormers weer eens die silwerware omhoog kan hou, dan moet die Kaap sekerlik Hoog-Hollands wees!

  • Suid-Afrikaanse afdeling van die VRK:
  1. Stormers: 59 punte
  2. Bulls: 43 punte
  3. Sharks: 41 punte
  4. Lions: 33 punte
  • Komende bepalings:

24 Maart: Stormers teen Leinster (weg)

15 April: Stormers teen Munster (tuis)

21 April: Stormers teen Benetton (tuis)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.