Toeskouers sit DHL-stadion vol

Die Stormer-vlae het gister op die DHL-stadion gewapper. (Foto: Hansie Linde)

Volgens ’n amptelike SA Rugby-verklaring het 44 109 toeskouers die kwarteindstryd tussen die Stormers en die Bulls op die DHL-stadion in Kaapstad bygewoon.

Die tuisspan het sy ondersteuners trots gemaak toe hy vir die soveelste keer op ʼn streep met die Pretorianers afgereken het. Die eindtelling van 33–21 beteken dat die Kapenaars volgende naweek in ʼn tuishalfeindstryd teen Connacht sal kragte meet.

Maar terug na gister se toeskouers.

Dit is die grootste VRK-skare nóg in Suid-Afrika en ʼn bywoningsrekord vir enige wedstryd in aanloop tot die eindstryd.

Nodeloos om te sê is John Dobson trots op sy spelers se vertoning.

“In konteks van ons wedywering met die Bulls was dít beslis een van ons beste vertonings. Dit is waarskynlik ook ʼn bietjie beter as ons oorwinning in Desember,” het die Stormers-breier gesê.

Die Kapenaars het net voor Kersfees vier drieë gedruk om die Pretorianers met 37–27 op die einste DHL-stadion te klop.

Volgens Dobson kon sy span egter beter in die eerste helfte vertoon het.

Hoewel die Stormers die balbesit- en gebiedsvoordeelstatistieke oorheers het, was die Bulls ongetwyfeld nog in die prentjie ná die eerste 40 minute van die kragmeting.

“Ons was so ʼn bietjie geïrriteerd met onsself omdat ons toegelaat het dat die Bulls ʼn drie gedruk het sonder om die bal na ander spelers te laat loop. Hul rolmaalbewegings is altyd ʼn gevaar.”

Hy meen dat die besoekers ook beter in die tweede helfte gespeel het.

“Die Bulls het beslis met hul geesdrif ná rustyd beïndruk. Terselfdertyd het ons nie na wense ons planne uitgevoer nie. Die Bulls moes inderdaad opvangrugby speel, maar ons het met ons uitvoering gesukkel.”

  • VRK-halfeindstrydbepalings:

Saterdag, 13 Mei:

16:00: Stormers teen Connacht op die DHL-stadion

18:30: Leinster teen Munster op die Aviva-stadion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.