Ulster se verloordery ʼn ‘wekroep’ vir Kitshoff

Steven Kitshoff sukkel so ’n bietjie om wedstryde saam met Ulster te wen. (Foto: X/Ulster)

Steven Kitshoff sukkel so ’n bietjie om ’n wedstryd in ’n Ulster-trui te wen.

Die Springbokke se Wêreldbeker-wenstut het ná die internasionale skouspel in Parys by die Ierse klub aangesluit, maar dinge het nie heeltemal volgens plan verloop nie.

Ulster het onder meer teen Glasgow Warriors (33–20), Edinburgh (27–24) en Bath (37–14) verloor en hulle moet nou ook hul vere regskud om gasheer vir Racing 92 in ʼn Kampioenebeker-wedstryd op die Kingspan-stadion te speel.

“Dit is beslis ʼn wekroep vir my,” het die 31-jarige voorryspeler aan die Ierse media gesê.

“Maar in dieselfde asem het ek ook nie vir een oomblik gedink dat ek net wedstryde saam met Ulster gaan wen nie. As ʼn speler moet jy bereid wees om hard te werk; veral as dinge nie reg uitdraai nie.”

(Foto: GB Jordaan)

Volgens die voormalige Stormers-kaptein is hy oorgehaal om weer op sy beste teen Racing te wees; veral wanneer hy dalk teen nasionale spanmaats soos Siya Kolisi en Trevor Nyakane kan speel.

“Ek het nog nie gespeel soos wat ek weet ek kan nie. Tog het ek dit al vantevore gesê: Rugby is ʼn vreemde spel – ná sewe dae kry jy weer ʼn geleentheid om te speel en hopelik vuur ek dan op alle suiers. Ek wil graag ʼn stewige vertoning teen Racing lewer.”

Hy meen dat ʼn goeie vertoning teen die Franse klub nie net Ulster se Kampioenebeker-veldtog ʼn hupstoot sal gee nie, maar ook na die Verenigde Rugbykampioenskap kan uitkring.

“As ons aanhou oplossings soek en nie vir harde werk wegskram nie, sal die momentum weer in ons guns swaai.”

Kitshoff is in Mei staande deur die Stormer-ondersteuners toegejuig toe hy sy laaste wedstryd vir die Kapenaars op die DHL-stadion gespeel het.

Onder sy leiding het die Stormers die VRK-silwerware met hul eerste probeerslag gewen, terwyl hulle ook in die laaste eindstryd teen Munster gespeel het.

“Dit was ʼn ongelooflike eer en die unie was baie goed vir my – deur goeie en slegte tye. Dit was ʼn groot eer om voor 56 000 toeskouers te speel en ek was in trane toe ek sien hoe almal opstaan en aan my erkenning gee,” het Kitshoff ná die Munster-kragmeting gesê.

Hy is tot 2026 by Ulster gekontrakteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.