Van Rooyen is die nuwe Leeu-afrigter

Ivan van Rooyen gesels met die media gedurende ’n Curriebeker-wedstryd. Foto: Facebook.

Die Leeus het vandag aangekondig dat Ivan “Cash” van Rooyen die span se nuwe afrigter sal wees. Dít kom nadat Swys du Bruin se paaie onlangs met die Johannesburgse unie geskei het.

“Ivan is iemand wat op die sukses van die afgelope paar jaar kan voortbou. Hy het sy waarde tot die span reeds saam met die Curriebeker-span bewys,” het die Leeus se uitvoerende hoof, Rudolf Straeuli, gesê.

Op sy beurt het Van Rooyen gesê dat Emirates Airline Park sedert 2009 sy tuiste is.

“Ons het nou die geleentheid om as span iets baie spesiaals te skep. Ons het ’n jong en baie dinamiese span en begin met ’n splinternuwe hoofstuk in die unie se geskiedenis. Ek is werklik geseënd om dit te doen waarvoor ek so lief is.”

Van Rooyen, ’n oudleerling van HTS Middelburg, het in 2009 sy speelstewels opgehang nadat hy ouderdomsrugby vir die Leeus gespeel het. Hy het ook Curriebekerrugby in die kleure van die Valke gespeel.

Die jong sportwetenskaplike het tot en met 2011 saam met die Johannesburgers se junior spanne gewerk, waarna hy die senior span se kondisioneringsafrigter geword het.

In 2018 en 2019 het hy die Curriebeker-span afgerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.