Vandag se sportnuus

Rusland se spelers gee erkenning aan die skare na hulle 30-10 teen Japan verloor het. Foto:. (AP Photo/Christophe Ena)

Rugby:

* Ná al die opwinding van die eerste vier dae word sake Dinsdag in Koemagaya (12:15) ʼn bietjie rustiger in vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi gevat wanneer Rusland (in sy tweede wedstryd) teen Samoa te staan kom.

Die Russe se afrigter, Lyn Jones, het besluit om dieselfde span in te span wat in die openingswedstryd met 30-10 deur Japan in Tokio geklop is. Die spanne het nog nooit voorheen teen mekaar gespeel nie en Samoa se afrigter, Steve Jackson, het nege WB-groentjies gekies.

Samoa, wat onlangs met 34-15 deur die Wallabies geklop is, behoort sy aanslag in vanjaar se toernooi op ʼn hoogtepunt te begin.

* In Maandag se enigste wedstryd het Wallis sy rekening in Groep D met ʼn oorwinning van 43-14 oor Tonga geopen.

* Skotland het ʼn tweede groot terugslag beleef toe die skrumskakel Ali Pryce (voetbesering) ook nie meer aan die WB-toernooi kan deelneem nie. Pryce het Sondag die besering teen Ierland opgedoen en word deur Henry Pyrgos vervang. Die vurige flank Hamish Watson, wat ook beseer is, is reeds deur Magnus Bradbury vervang.

Die Skotte speel in Groep A en sal waarskynlik teen die All Blacks in die kwarteindronde speel.

Netbal:

* Dis volgende Maandag Tuks teen die NWU Pukke in Pretoria in die een halfeindstryd van die Varsity-reeks en Kovsies teen Maties in die ander in Bloemfontein.

Dit het gevolg nadat Tuks Maandagaand sy onoorwonne vertoningslys behou het deur TUT met 77-10 te klop. Kovsies het Maties met 65-61 getroef om tuisveldvoordeel in die halfeindronde te beklink; UJ het sy eerste oorwinning behaal deur die UWK met 49-33 te verslaan en die Pukke het die Madibaz met 45-33 geklop.

Finale puntestand ná sewe wedstryde: Tuks (34), Kovsies (30), Maties (27), NWU Pukke (22), Madibaz (15), UJ (5), TUT (5), UWK (4).

Krieket:

* Die krieketspanne van Oostelikes en KwaZulu-Natal Binneland kom Dinsdagoggend (10:00) op Willowmoorepark in Benoni in die eindstryd van die Provinsiale T20-reeks teen mekaar te staan.

Dit het gevolg nadat Oostelikes Maandag vir Grens met 21 lopies geklop het en die KwaZulu-Natallers ʼn maklike sege van nege paaltjies oor die Oostelike Provinsie behaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.