Vat vyf, Stormers!

Evan Roos op die aanval. Foto: Hansie Linde.

Om vir Kurt Darren effens verkeerdelik aan te haal: “Vat so, Edinburgh!”

Die Stormers het gisteraand in Kaapstad die Skotse besoekers met 28–17 geklop om hul plek saam met die Bulls in die halfeindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) te bespreek.

En danksy Steven Kitshoff en Kie se heldedade sal die span komende Saterdag vir Ulster op hul tuisveld kan aanvat – goeie nuus vir enige Stormers-ondersteuner.

Tog het dinge in die Edinburgh-kwarteindstryd aanvanklik nie heeltemal volgens plan verloop nie. Ondanks die feit dat die Kapenaars (geleentheidgewys, altans) die oorhand gehad het, wou die Skotte net nie gaan lê nie.

Rustyd was die telling 10-elk en ’n hele paar toeskouers het waarskynlik ’n bietjie ongemaklik in hul pawiljoensitplekke rondgeskuif.

Warrick Gelant was ’n doring in Edinburgh se vlees. Foto: Hansie Linde.

Maar die tuisspan het soos vetgesmeerde blitse in die tweede helfte weggetrek met Ruhan Nel en Evan Roos se drieë wat hul voorsprong laat rek het.

Volgens John Dobson het hy vir sy spelers tydens rustyd gesê dat hulle net moet aanhou speel; die damwal gaan die een of ander tyd breek.

“Dit was ’n taai wedstryd. Soms het dit gelyk asof ons met die grootste gemak die septer swaai, maar dan bewerkstellig hulle weer omgekeerde besit. Edinburgh se voorry het egter in die tweede helfte begin moeg word en die twee skrumstrafskoppe het ons beslis gehelp,” het ’n tevrede Stormers-afrigter ná afloop van die wedstryd gesê.

Hy was ook in sy skik met die spel van Sacha Mngonezulu wat vir Rikus Pretorius baie vroeg in die eerste helfte vervang het.

Ander spelers wat uitgeblink het, is beslis Warrick Gelant en Leolin Zas, terwyl Roos ook sy Springbok-kanse geen skade berokken het nie.

“Daar is een wedstryd tussen ons en die eindstryd; dit is ongelooflik.”

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Warrick Gelant, Ruhan Nel en Evan Roos. Doelskoppe: Manie Libbok (2). Strafskoppe: Libbok (3).

Edinburgh: Drieë: Dave Cherry en Henry Purvis. Doelskoppe: Emiliano Bofelli (2). Strafskop: Bofelli.

  • Halfeindstrydbepalings (tuisspan word eerste genoem):

Leinster teen Bulls (Vrydag om 20:35)

Stormers teen Ulster (Saterdag om 15:00).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.