VRK-halfeindronde: Dis SA teen Ierland!

Die Bulls het die Sharks Saterdag met drie punte op Loftus Versfeld geklop. (Foto: GB Jordaan)

Dis sekerlik nie wat die Skotte en Walliesers wou gehad of voorsien het nie, maar komende Saterdag se twee halfeindstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap is ʼn armdruk tussen Ierse en Suid-Afrikaanse rugby.

Dit kan boonop ʼn amperse kleedrepetisie wees vir die Springbokke se eerste toets op hul toer aan die einde van die jaar wanneer hulle op 5 November teen die Iere speel.

Leinster, wat die Glasgow Warriors Saterdag in Dublin met 74-14 oorrompel het en 12 drieë gedruk het, pak die Bulle, wat die Sharks op Loftus Versfeld met ʼn doodsnikskepdoel deur Chris Smith met 30-27 getroef het.

In die ander halfeind speel Ulster, wat Vrydagaand in Belfast ʼn oorwinning van 35-17 oor Munster behaal het, in Kaapstad teen die Stormers, wat Edinburgh met 28-17 uitgeskakel het.

Leinster was briljant in hul sege oor die Warriors. Hulle het teen ʼn baie vinnige tempo gespeel en alle bewegings is op volle vaart uitgevoer. Hul aangeë was kort, kragtig en suiwer en boonop het hul voorspelers hul basiese take in die vaste fasette byna vervolmaak.

Die Leinster-afrigtingspan, onder Leo Cullen, het sy spelers deur die seisoen baie goed bestuur, soos toe hy sy sogenaamde Akademiespan op die toer na Suid-Afrika gestuur het. Die jongelinge het baie goeie rekenskap van hulself teen die Stormers en Sharks gegee en het ʼn bonuspunt in elke wedstryd verower.

Wat in Leinster se guns tel, is dat die wedstryd teen die Bulls reeds Vrydagaand is. Dit beteken dat die Bulls, wat na Dublin moet vlieg, se tyd skraps is om voor te berei. Leinster het op die oog af geen beserings nie en kan kies en keur tussen meer as 30 vaardige spelers wat soomloos by hul patroon kan inskakel.

Die Stormers het Edinburgh met 28-17 uitgeskakel (Foto: Hansie Linde)

Ulster het Munster (wat deur die Suid-Afrikaner Johann van Graan afgerig is en nou oorskuif na Bath in Engeland) redelik maklik uitgestof. Munster speel baie soos die Bulls en Stormers, maar hulle het nie baie teenvoeters gehad nie.

Wanneer Ulster die Stormers pak, sal hul vorige kragmeting op 26 Maart in Kaapstad, toe die Stormers effe omstrede met 23-20 gewen het nadat ʼn laaste drie deur Callum Reid nie toegeken is nie, in die agterkoppe wees.

Ulster skroom ook nie om die bal wyd te rek nie en hul voorspelers se dryf- en rolmale word eksie-perfeksie uitgevoer.

Die Stormers het wel tuisveldvoordeel en dit gaan baie afhang van watter span sy dissipline in toom kan hou, want ʼn geel en rooi kaart onderskeidelik kan die halfeind bederf tussen twee spanne wat nie een die ander wang draai nie.

In albei wedstryde gaan daar beslissende tweestryde wees – die een waarvoor ondersteuners hul lippe behoorlik kan aflek, is beslis dié tussen Duane Vermeulen (Ulster-agtsteman) en die nuwe kroonprins van Suid-Afrikaanse rugby, Evan Roos (Stormers).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.