VRK-reeks: Lions rooiwarm in hitte teen Zebre

Die skoen is nou aan die ander voet vir die oorsese spanne wat in die Verenigde Rugbykampioenskap speel, want nou moet hulle op die Hoëveld aanpas by Suid-Afrika se snikhete somer, die berugte dun lugdruk, geen wind en reën op lowergroen grastapyte nie, en balle wat aanhou rol en rol.

Nadat die Lions, Bulls, Stormers en die Sharks die afgelope maand of wat op koue wintersaande in koue reënerige Europese toestande moes speel en aanpas, is dit nou die Europeërs se beurt.

Saterdagmiddag op Ellispark het die Italiaanse Zebre-span die eerste proesel van die ongenaakbare hitte gekry. Dit het hul energie getap en eintlik het hulle geen kans gehad om die Lions te troef nie.

Die Lions het die kragmeting met 61-19 gewen nadat hulle rustyd reeds met 33-7 voor was.

Die Lions het nie geskroom om die bal wyd te speel nie en met gevaarlike aanvallers soos Quan Horn, Edwill van der Merwe, Richard Kriel, Henco van Wyk en Morne van den Berg wat rooiwarm in die hitte was, het hulle nege drieë teenoor Zebre se drie gedruk.

Die voorspelers het die slag geslaan, want toe die asem eers begin kort raak het, was daar geen kans om teen bulle soos Asenathi Ntlabakanye, PJ Botha, Ruben Schoeman en Francke Horn wal te gooi nie.

Toe die Lions hul vernuftige plaasvervangersbank van onder andere Jaco Visagie, Willem Alberts en Hanru Sirgel opgestuur het, was die slag reeds lankal gelewer.

Vir die Lions is die oplewing in hul spel soos manna uit die hemel.

Hulle probeer nie met elke bal hardloop nie en voer eers die basiese pligte in die vaste fasette reg uit voordat daar agterlangs geslaan word.

Dis net jammer dat die span die afgelope paar seisoene deur troebel waters is, want daar was Saterdag op Ellispark kwalik 1 000 toeskouers.

Dit sal minstens ʼn seisoen of twee duur voordat die toeskouers dalk weer na Ellispark terugkeer.

Maar soos die Lions nou speel, sal dit eerder vroeër as later gebeur.

Puntemakers:

Lions 61 (33): Drieë: Richard Kriel, Edwill van der Merwe (2), Francke Horn, Quan Horn, Henco van Wyk (2), Morne van den Berg, Emmanuel Tshituka. Doelskoppe: Sanele Nohamba (7), Willem Alberts.

Zebre 19 (5): Drieë: Simoné Gesi (2), Jacopo Trulla. Doelskoppe: Giovanni Montemauri (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.