VRK-reeks: Munster veg enduit teen Glasgow

Malakai Fekitoa van Munster.
(Foto: ©INPHO/Laszlo Geczo)

Daar is ʼn ou cliché in rugby wat lui dat dit jammer is dat daar ʼn verloorder in enige wedstryd moet wees.

As jy ʼn Skotse ondersteuner is, sal jy daarvan kan getuig.

Franco Smith se Glasgow Warriors het straks nie verdien om Saterdagaand op Scotstoun in Glasgow die knie voor Munster in die kwarteindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap te buig nie.

Munster het met 14-5 gewen en speel nou in die halfeindronde teen Leinster in Dublin, terwyl die Stormers, wat Saterdagmiddag die Bulls uitgestof het, in Kaapstad teen Connacht speel.

Maar lig die hoed vir Munster, wat sonder drie van hul grootste sterre, Peter O’Mahony, RG Snyman én Conor Murray (albei harsingskudding), moes voortspeel.

Langs die pad moes nog drie ander spelers vanweë harsingskudding vervang word, maar hulle het nooit gaan lê nie, aanhou veg en verdedig om Glasgow van hul doellyn af weg te hou.

Ja, Glasgow kon gewen het, want hulle het besit en gebiedsvoordeel oorheers. Hulle moes ook sonder hul losskakel, Tom Jordan, klaarkom wat Murray reeds in die eerste helfte met die skouer teen die kop ná ʼn hoë duikslag getref het en met ʼn rooi kaart gestraf is.

Baie ander spanne sou boedel oorgegee het, maar die Skotte het dit verwerk en byna deurgeglip.

Maar dalk moes die Skotte eerder pale toe geskop het nadat hulle strafskoppe binne trefafstand gekry het, dalk het hulle rolmale oordoen, dalk moes hulle eerder die bal wyer gespeel het.

Maar dit was nie hul wedstrydplan nie.

Wat Smith die afgelope paar maande in Glasgow reggekry het, was om die Skotte in hulself te laat glo, asook te oortuig dat hulle fisiek kan meeding en die nodige vaardighede het om reekse te wen.

Uit ʼn Ierse oogpunt was Munster se oorwinning bittersoet. Hulle is nou weens beserings van ses spelers gestroop. Maar belangrik is dat hulle enduit geveg het.

Verlede jaar het twee Suid-Afrikaanse spanne en twee Ierse spanne tot die halfeindronde van die reeks deurgedring.

Vanjaar het die Iere daarop verbeter, want Leinster, Munster en Connacht (wat boonop vir Ulster uitgeskakel het), het tot die halfeindronde gevorder.

Dít in ʼn land (Ierland en Noord-Ierland) waar daar net 153 00 geregistreerde spelers en 209 klubs is. En boonop is rugby verreweg nie die gewildste sportsoort nie.

Maar as jy ʼn groot hart, durf en passie het, is enigiets moontlik.

Punte: Munster 14 (14): Drieë: Malikai Fekitoa, Antoine Frisch. Doelskoppe: Jack Crowley.

Glasgow Warriors 5 (0): Drie: Kyle Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.