VRK-reeks: Sharks speel ongedissiplineerde Bulls flou

Canan Moodie (Foto: Twitter via Blue Bulls)

Een van die Bulls se grootste bates was nog altyd hul dissipline en om hul teenstanders in die vaste fasette te wurg en te oorheers.

Maar die dag wanneer hulle dissipline lol en hulle ook nie voor kan oorheers nie, wag daar probleme.

Dit het Saterdag op Kingspark in Durban in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Sharks gebeur toe die tuisspan met 47-20 gewen het nadat hulle rustyd reeds met 30-13 voor was.

Die Bulls is ʼn ongekende 20 keer gestraf, hulle het ʼn strafdrie afgestaan en het drie geelkaarte gekry (Cyle Brink en Canan Moodie, wat twee keer gestraf is wat outomaties tot ʼn rooi gelei het).

Dis mos vir moeilikheid soek, veral as hul teenstanders tien Springbokke in die uitdrafspan gehad het.

Die Sharks is sedert Neil Powell die leisels as afrigter geneem het, onoorwonne.

Dit was nog nie ʼn keurvertoning nie, want hulle is 17 keer deur die skeidsregter Marius van der Westhuizen gestraf. Daar was ook ʼn paar keer bottervingers weens die natterige veld en hoë humiditeit.

Maar daar blaas ʼn vars briesie in Durban, want die Sharks is nie meer bang om hul spelskeppers soos Boeta Chamberlain, Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am, Curwin Bosch en Grant Williams agterlangs te gebruik nie.

Dan gee die stormram Rohan Janse van Renburg ook ʼn nuwe dimensie aan hul agterspel.

Met ysters soos Thomas du Toit, Ox Nche, Bongi Mbonambi, Eben Etzebeth en Sikhumbuzo Notshe om voorlangs sag te maak, maak dit die deur oop vir Siya Kolisi om “vleuel” te speel.

Vir die Bulls was dit hul derde opeenvolgende nederlaag (een in die Europese Kampioenebeker-reeks teen die Exeter Chiefs) en verlede Saterdag teen die Stormers in die VRK.

Die Bulls het veral in die skrums kleigetrap en hoewel hulle in die tweede helfte ʼn paar keer baie goed aangeval het, ook van hul eie doellyn af, was daar nie genoeg plofkrag nie.

Tog het Johan Goosen, Harold Vorster, Cornal Hendricks en Moodie agterlangs soms die oog getref, terwyl die kanniedood Marco van Staden en Ruan Nortje voorlangs hard gespook het.

Die Bulls (34 punte ná 11 wedstryde) is steeds voor die Sharks (29 punte ná nege wedstryde), maar hulle sal die puntelys goed moet dophou, want dit begin mos al hoe meer lyk asof hulle in die uitkloprondes weg van die huis af sal moet speel.

Punte: Sharks 47 (30): Drieë: Strafdrie (7 punte), Grant Williams, Bongi Mbonambi, Rohan Janse van Rensburg (2). Doelskoppe: Curwin Bosch (4). Strafdoele: Bosch (4).

Bulls 20 (13): Drie: Canan Moodie, Johan Goosen. Doelskoppe: Chris Smith (2). Strafdoele: Smith (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.