VRK-reeks: Só het die oorsese spanne gevaar

(Foto: pixabay)

Tuisveldvoordeel, die oplewing in Italiaanse rugby, Ierse rugby wat nog nie uit sy somerslaap wakker geskrik het nie en die waarde wat Suid-Afrikaanse spelers tot spanne voeg, was die afgelope naweek die grootste kenmerke van die oorsese spanne se vertonings in die Verenigde Rugbykampioenskappe wat die seisoen ingelui het.

Slegs twee spanne, Ierland se Leinster en aan die tuisfront die Bulls, kon hul kragmetings weg van die huis af wen.

Só het die onderskeie oorsese spanne gevaar:

Italië: Benetton het Vrydagaand verras deur die Glasgow Warriors, een van die keurspanne in Skotse rugby, behoorlik ore aan te sit.

Benetton, wat nou deur die oud-Italiaanse slot Marco Bortolami afgerig word, het met 33-11 gewen en Franco Smith se debuut as nuwe Glasgow-afrigter, op ʼn laagtepunt laat begin.

Rhyno Smith (oud-Shark) en die kaptein, Dewaldt Duvenage (oud-Stormer), was oudergewoonte twee van Benetton se glansspelers.

* In die Stadio Sergio Lanfranchio het Zebre, wat verlede seisoen laaste in die reeks geëindig het en slegs een van sy 18 wedstryde kon wen, twee bonuspunte teen die Ierse kragreus Leinster verower.

Leinster was met rustyd met 28-10 voor, maar het met 33-29 deurgeskraap teen die begeesterde Zebre.

Vir Leinster het die oud-Springbokslot van die Bulls, Jason Jenkins sy vertoning met ʼn drie afgerond, terwyl nog ʼn oud-Bull Richard Kriel, MJ Pelser (Lions) en Franco Smith jr. (Cheetahs), die vonk by Zebre aangesteek het.

Ierland: Ulster is in alle waarskynlikheid op pad om die mantel by Leinster as Ierland se beste span oor te neem nadat die Iere op hul tuisveld in die Kingspan-stadion in Belfast vyf drieë in hul bonuspuntesege van 36-10 oor Connacht gedruk het.

Dan MacFarland se span was verlede seisoen baie na aan ʼn eindstryd en die drieë van Luke Marshall, Tom Stewart, Nathan Doak, Stewart Moore en Callum Reid was pure plesier.

Wallis: Die Scarlets se plaasvervanger Jack Walsh het op Parc y Scarlets in Llanelli met ’n doodsnik-doelskop ʼn gelykopuitslag van 23-23 teen die Ospreys afgedwing.

Die groot sterre was die twee losskakels, Sam Costelow (Scarlets) en die oud-Kiwi Gareth Anscombe.

Costelow, wat 16 punte aangeteken het, is as Speler van die Wedstryd aangewys terwyl Anscombe 18 punte aangeteken het.

* Cardiff het op sy tuisveld ʼn oorwinning van 20-13 oor Munster behaal.

Dit was ʼn soet-en-suur-buiging vir Cardiff se twee nuwe aanwinste, die heelagter Liam Williams en die agtsteman Taulupe Faletau.

Williams is vroeg in die eerste helfte met ʼn ernstige skouerbesering van die veld af, maar Faletau was veel gelukkiger en het enduit uitgeblink.

Skotland: Edinburgh, aangevuur deur Henry Immelman, Boan Venter en Pierre Schoeman, het op sy tuisveld ʼn maklike sege van 44-6, wat sewe drieë ingesluit het, oor die Walliese Dragons behaal

Uitslae: Zebre 29, Leinster 33; Cardiff 20, Munster 13, Scarlets 23, Ospreys 23; Ulster 36, Connacht 10, Benetton 33, Glasgow Warriors 11; Edinburgh 44, Dragons 6.

Komende naweek se bepalings (tuisspanne eerste genoem): Zebre t Sharks; Leinster t Benetton; Scarlets t Ulster; Bulls te Edinburgh; Stormers t Connacht, Glasgow t Cardiff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.