Wêreldbeker se groot kopseer

Derick Hougaard (Foto: london24.com)

Derick Hougaard (Foto: london24.com)

Harsingskudding en die wyse waarop dit gereguleer word, kan een van die groot kopsere van die Wêreldbekertoernooi wees.

In 2005 is 4,5 harsingskuddings vir elke 1000 uur se beroepsrugby aangemeld. In 2013 – die jongste beskikbare syfer – het dit tot 9,6 per 1000 uur gestyg. In die Engelse Premierliga het die besering in 2014 met 59% toegeneem en was dit 12,5% van alle wedstrydbeserings.

Wêreldrugby het nuwe en strenger maatreëls ingestel vir `n sport waarin daar al meer harde botsings voorkom, soos toe Willem Alberts onlangs vir Mark Richards van die Lions heeltemal bewusteloos geplettervat het.

Die oud-Springbok Derick Hougaard het onlangs gekla dat hy baie vergeetagtig is en nie helder kan dink nie. “Al die kopbeserings en stampe wat ek verduur het, haal my nou in. `n Klomp oudspelers sal dalk dieselfde roete volg.” Hy moes `n breinskandering ondergaan en het Woensdag gehoor daar is net geringe skade. Hy hoop op `n volkome herstel.

Dit verg geen versiendheid om te weet dat harsingskuddings in die Wêreldbeker gaan voorkom nie. Daar is sewe weke lank geweldige druk op spelers, spanne en afrigters, wat hul beste spelers fiks wil hê.

En dis juis waar die turksvy is: Sal elkeen hul plig doen en behoorlik na die speler met harsingskudding omsien, of sal hulle te gou weer gekies word?

Dis haas onmoontlik om `n hou teen die kop mis te kyk. Die wedstryd se dokter moet `n getuie van die toetsing wees en die speler toelaat om verder te speel. Dit is dus moeilik om die proses te misbruik, maar die groot vraag is: Wat gebeur daarna?

Daar is beste-praktyk raad en riglyne vir die span se mediese personeel, maar geen verpligting dat die beseerde spelers onafhanklik – en dus buite die spanopset – getoets moet word voor hulle weer mag speel nie. Dit gaan van hulle afhang om in die speler se beste belang op te tree, selfs al is die druk op die span geweldig hoog.

Behalwe al die kritiek op reëls en die aandrang op nuwe reëls word daar straks nie genoeg gedoen om die belangrikste orgaan – die brein – te beskerm nie. En dit gaan nie net oor kopstampe nie, want daar kan so hard met `n liggaam kontak gemaak word dat dit tot harsingskudding lei.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae