Wêreldbekertoernooi: Frankryk pas Bokke soos handskoen

Argieffoto van die Springbokke se tyd in Frankryk in 2007. (Foto: JACQUES DEMARTHON / AFP)

Die Springbokrugbyspan het nog altyd ʼn sagte plekkie vir Frankryk en Franse rugby gehad.

Dit is waar die Springbokke sedert 1913, toe hulle die eerste keer ʼn toets teen die Franse in Bordeaux gespeel het en met 38 – 5 gewen het, die land hul amperse tweede rugbytuiste gemaak het.

Dit is waar die Bokke in 14 van die 21 toetswedstryde teen die Hane aan die wenkant was. Net een van dié toetse, in 1961 teen Avril Malan se toerspan, het met 0 – 0 gelykop geëindig.

Dit is waar Jake White se Springbokke in 2007 se Wêreldbekertoernooi glorie geproe het toe hulle Engeland met 15 – 6 in die eindstryd in St. Denis in Parys geklop het.

Die gunstige weerstoestande vergelyk baie goed met die in Suid-Afrika. Wanneer vanjaar se Wêreldbekertoernooi in September en Oktober plaasvind, sal die toestande ideaal ná die Franse somer wees, nie te warm of glad nie te koud nie.

Die Springbokke is baie gewild in Frankryk en word op die hande gedra. Frankryk ʼn eerstewêreldse land waar alles werk en baie goed in stand gehou word. Dit is hoekom soveel Suid-Afrikaners, ondanks die feit dat daar nie veel Engels gepraat word nie, baie gou en goed aanpas om ʼn rugbyloopbaan daar uit te kap.

Die Bokke sal vir 28 dae in Toulon in die statige Grand Hotel des Sablettes Plage bly, wat oor die Middellandse See uitkyk.

Dit is slegs 24 minute van Toulon se rugbybasis af, wat van die beste fasiliteite in rugby het. Daar is ʼn hoëprestasie-gimnasium, ʼn warmwater-swembad, binnenshuise sintetiese veld, buitevelde met perfekte grasoppervlakke en kameras wat elke beweging vaslê.

Daar is ook uitstekende rehabilitasie-fasiliteite, ʼn volledige kombuis en eetkamer as die Bokke nie na die hotel wil terugkeer nie.

Die Bokke het die keuse van drie stede gehad om uit te kies, maar het op Marseille besluit.

Die Bokke sal ook vir die kragmeting met Ierland ʼn week lank na Parys verskuif.

Die Bokke, wat in Groep B saam met Skotland, Roemenië, Ierland en Tonga geloot is, speel op 10 September in die ultra-moderne Stade Vélodrome in Marseille, voordat hulle Roemenië op 17 September in Bordeaux pak. Dan skuif hulle oor na Parys vir die kragmeting met die Iere voordat hulle na Marseille terugkeer waar hulle op 1 Oktober teen Tonga speel.

Net soos in 2019 toe die Bokke in Japan die Webb Ellis-trofee gelig het, kan daar geen verskoning anders as rugby wees as die Bokke dalk sou vasval nie.

Hulle speel drie opwarmtoetse – op 5 Augustus teen Argentinië in Buenos Aires, op 19 Augustus teen Wallis in Cardiff en op 25 Augustus teen die All Blacks op Twickenham.

Hulle het reeds met oefenkampe begin, gaan nog verskeie kampe bywoon en alles sal dus in hul guns wees wanneer die huidige Wêreldbekerkampioen in Frankryk aankom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.