Vandag se sportnuus

Novak Djokovic. Foto: (AP Photo/Lee Jin-man)

Tennis:

  • Serwië se Novak Djokovic het gister in Melbourne sy agtste Australiese Ope-titel ingepalm.

Hy het Oostenryk se Dominic Thiem met 6-4, 4-6, 2-6, 6-3 en 6-4 in ’n aksiebelaaide eindstryd geklop.

“Dit is definitief my gunsteling-stadion in die wêreld en ek is baie geseënd om die trofee weer ’n keer omhoog te hou,” het Djokovic gesê.

In die proses het die 32-jarige sy 17de Grand Slam-titel ingepalm en hy jag Roger Federer se rekord. Die Switserse ster het al 20 Grand Slams in sy loopbaan gewen.

“Grand Slams is een van die redes waarom ek nog kompeterende tennis speel en ek is ongelooflik gelukkig met die wyse waarop ek die seisoen begin het; dit gee jou selfvertroue beslis ’n hupstoot.”

  • Roger Federer en Rafael Nadal speel oor slegs vier dae in hul liefdadigheidswedstryd in Kaapstad.

Trevor Noah en Bill Gates sal ook deel van die aksie wees.

So naby en tog so ver. (Foto: Twiter)

Rugby:

  • Die Blitsbokke is in die algehele tweede plek ná vier toernooie van die HSBC-sewesreeks.

Stedman Gans se span het gister in Sydney in hul derde bekereindstryd van die jaar met 12 – 10 teen Fidji verloor.

  • Die Varsitybeker begin vandag met Tukkies en die Pukke wat om 17:15 kragte sal meet.

In ’n ander lekker wedstryd speel Maties teen die Shimlas op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Dié kragmeting sal om 19:15 begin.

  • In Sesnasies-nuus het Frankryk vir Engeland met 24 – 17 getroef.

Engeland se afrigter, Eddie Jones, het ná die afloop van die wedstryd gesê sy span het hopeloos te veel foute gemaak.

“Ons het vroeg in die wedstryd glad nie met dieselfde intensiteit as hulle gespeel nie. Ons was pleinweg net nie goed genoeg in die eerste helfte nie,” het Jones gesê.

Krieket:

  • Die eerste eendagwedstryd in die reeks tussen Engeland en die Proteas begin môre.

Goeie nuus vir die Suid-Afrikaners is dat Lungi Ngidi gereed vir aksie sal wees.

Ngidi het ’n dyspierbesering gedurende die Mzansi-superliga opgedoen, maar het goed by die Proteas se kondisioneringskamp herstel.

Hy sal die Suid-Afrikaners se boulaanval in die plek van Kagiso Rabada, Dale Steyn en Chris Morris lei.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.