Vandag se sportnuus

Shaun Pollock en Allan Donald. Foto: Twitter

Krieket:

  • Een van die redes vir Suid-Afrika se krieketsukses in die 1990’s onder Hansie Cronjé en Bob Woolmer was die boulvennootskap tussen Allan Donald en Shaun Pollock.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) het onlangs hulde aan dié duo op sosiale media gebring en gesê hulle is een van die gedugste boulvennootskappe van alle tye.

In 147 wedstryde (toetse en eendagkragmetings) wat die twee saam gespeel het, het hulle 714 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22 geneem.

Donald het in 72 toetse 330 paaltjies laat spat, terwyl Pollock se 421 toetspaaltjies vir lank die Suid-Afrikaanse rekord was.

In hul eerste reeks saam – teen Mike Atherton se Engelse toerspan in die 1995-’96-seisoen – het hul boulwerk die reeks vir die Proteas beklink. Donald het in die eerste beurt 5/46 geneem, terwyl Pollock in die tweede beurt met ’n boulontleding van 5/32 gespog het.

  • Intussen het die IKR se kundiges aanbeveel dat sweet, in plaas van spoeg en ander alternatiewe, gebruik word om ’n krieketbal in die Covid-19-era blink te poets.

Vroeër het die legendariese Shane Warne aanbeveel dat die een kant van ’n krieketbal swaarder as die ander kant moet wees om met boulwerk te help, terwyl Kookaburra ’n spesiale politoer wou vervaardig.

Rugby:

  • Scott Barrett het ’n kontrak onderteken wat hom tot 2023 in Canterbury sal hou.

Die 26-jarige Scott is een van drie Barrett-broers – saam met Beauden en Jordie – wat gedurende verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan vir die All Blacks gespeel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.