Vandag se sportnuus

Dean Elgar. (Foto twitter @officialcsa).

Krieket:

  • Die rateltaai openingskolwer Dean Elgar het in ’n onderhoud gesê dat hy ook bereid sal wees om die Proteas se volgende toetskaptein te word.

Quinton de Kock het reeds die kapteinsleisels in die eendagkrieket-arena by Faf du Plessis oorgeneem en sy span het onlangs vir Australië ore aangesit. Maar Graeme Smith – Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket – het gesê dat die talentvolle paaltjiewagter nie vir die toetskaptein-rol oorweeg sal word nie.

“Ek dink nie dit sal ’n maklike pad wees om ’n toetskaptein te wees nie, maar leierskap is een van my sterk punte,” het Elgar gesê.

Die 32-jarige kolwer het reeds twee keer in sy loopbaan Du Plessis se skoene volgestaan – teen Engeland en Pakistan.

“Ek het al voorheen spanne aangevoer – van my skooljare tot op provinsiale vlak. Ek geniet die uitdaging baie en as ek gevra word om die volgende toetskaptein te word, sal ek beslis lank en ernstig daaroor dink; juis omdat dit so baie vir my sal beteken.”

Aiden Markram en Themba Bavuma is van die ander gunstelinge om by Du Plessis oor te neem, terwyl Keshav Maharaj homself ook beskikbaar verklaar het.

Rugby:

  • In rugbykringe het die Stormers-afrigter, John Dobson, gesê dat Bongi Mbonambi tot minstens die einde van 2021 in die Kaap sal bly.

Daar was vroeër berigte dat die Bulls in die Springbok-haker se dienste belangstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.