Konflik voor kinders – ja of nee?

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mikhail Nilov/Pexels)

Deur Lourindi Nel

Om te leer dat goeie intensies en selfs die aangename gevoel wat ons as liefde beskou alleen nie altyd genoeg is om die gewenste resultate te kry nie, is ʼn moeilike les.

Soms kry ons baie seer voor ons agterkom dat lief-hê ʼn werkwoord is, met die klem op werk! Die meeste van die werk wat moet gebeur is dikwels aan onsself – ons moet leer hoe om te kommunikeer, hoe om konflik te hanteer, hoe om woorde vir ons ervarings, verwagtinge en selfs planne te gee, hoe om te vergewe en hoe om veilig te wees in onsself en vir ander.

Statistiek Suid-Afrika sê in 2022 het 18 850 Suid-Afrikaanse kinders die trauma van egskeiding in hulle gesinne beleef. Vir sommige van hierdie kinders was egskeiding die finale slag van jare se konflik, van ʼn stywe atmosfeer in die huis, stilstuipe, sarkasme en kwaai woorde, passiewe-aggressie en soms selfs fisiese geweld. Vir baie van hulle sal die woord ‘konflik’ altyd sinoniem wees met ʼn nare angstigheid op die krop van hulle maag of die stywe bang van nie weet wat volgende gaan gebeur nie.

Konflik self is nie negatief nie. Inteendeel is dit ʼn noodsaaklike komponent van gesonde verhoudings. Die konsep verwys bloot na situasies waar mense verskillende menings of opinies oor ʼn saak huldig en deur dit moet werk. In enige langtermynverhouding kan konflik wat reg hanteer word aanleiding gee tot ʼn hoër mate van intimiteit en ʼn beter begrip van mekaar.

Onbestuurde konflik aan die ander kant, manifesteer op destruktiewe maniere wat diep letsels vir almal betrokke kan laat. Kinders wat aan hierdie soort ervarings blootgestel word, voel onveilig en leer verdedigingsmeganismes aan wat hulle dikwels tot in hul volwasse lewens nog negatief beïnvloed.

Behoort ouers voor hulle kinders te werk aan hulle verskille of is ouma en oupa wat styf-styf na die kamer verdwyn en in fluister-stemme kwaad word vir mekaar ʼn beter opsie?

Indien ons ʼn tree terug staan en na die groter prentjie kyk van wat ons in ons kinders se lewens wil belê voor hulle volwassenheid betree, is dit eintlik uiters belangrik om vir hulle korrekte konflikhantering te leer. Ons heg waarde daaraan om seker te maak dat hulle oor die nodige fisiese vaardighede beskik om suksesvol te wees – ons leer hulle bestuur, ons wys hulle hoe om ʼn bankrekening oop te maak en gee van kleins af sakgeld om seker te maak dat hulle weet hoe om met geld te werk. Ons ry ure agter tutors aan en belê duisende rande in hulle akademiese vordering, maar dikwels vergeet ons van die emosionele en sosiale vaardighede wat hulle moet help om gesond en gelukkig te leef – hoe om emosioneel intelligent met uitdagende situasies te deel, hoe om respekvol te verskil en te onderhandel vir ʼn wen-wen-oplossing. Hierdie gebrekkige vaardighede lê aan die fondasie van vele gebroke verhoudings tussen mense wat mekaar aanvanklik werklik lief gehad het.

Hoe verander ʼn mens dit? Wat moet gebeur vir ons kinders om met die regte interpersoonlike vaardighede in die wêreld in te gaan? ʼn Goeie beginpunt is om te besef dat voorbeeld en persoonlike ervaring ons kinders se eerste en mees prominente modus van leer is. Ons moet self die vaardighede bemeester – en uitleef – wat ons vir ons kinders wil leer. Indien ons nie die nodige emosionele werk doen om beter interpersoonlike vaardighede aan te leer nie, trap ons maklik in die strik om juis die strategieë wat ons kinders moet afleer, te gebruik om hulle op te voed – ons skree uit moedelose frustrasie of gee pak omdat hulle seermaak en ons baklei met mekaar op maniere wat ons kinders kniediep in die moeilikheid sal laat indien hulle dit by die skool met maats naboots.

In die regte wêreld is dit nie realisties om nooit voor kinders ʼn meningsverskil te hê nie. As ek ʼn antwoord moet gee op die moeilike vraag of konflik voor kinders aanvaarbaar is, sou dit ʼn voorwaardelike ‘ja’ wees. Om konflik voor kinders te hanteer is aanvaarbaar, selfs belangrik vir hulle ontwikkeling, maar om voor hulle te baklei, beheer te verloor, dae lank stilstuipe te hê of mekaar sleg te sê, is verseker nie ideaal nie!

Kinders moet leer dat ʼn mens partykeer lief en kwaad gelyk in jou wese vashou en hoe ʼn mens dan deur dit moet werk. Hulle moet kan sien hoe ʼn mens met respek jou kant stel sonder om persoonlik te raak of die belangrikheid van “wen” bo die verhouding te plaas. Hulle moet duidelik sien hoe ʼn mens jouself beheer en nie met slinkse woorde of gedrag probeer om iemand anders te beheer nie. Baie belangrik, moet hulle sien hoe ʼn mens regmaak waar jy verbrou het en om verskoning vra vir dinge wat jy verkeerd gesê of gedoen het.

Lourindi Nel (Foto verskaf)

Indien ʼn mens gesonde emosionele en sosiale denkwyses in jou gesin wil fasiliteer, is die volgende punte belangrike oorwegings in konfliksituasies waar kinders teenwoordig is:

  • Handhaaf emosionele regulering: Ouers se emosionele regulasie tydens konflikte het ʼn beduidende impak op kinders se vermoë om die gepaardgaande spanning te hanteer. Uitdrukkings van woede, vyandigheid, of aggressie behoort voor kinders vermy te word. Modellering van gesonde hanteringstrategieë soos om “tyd-uit” te neem om af te koel, of hulp te kry indien nodig is goud werd.
  • Leer om konstruktief te kommunikeer: Effektiewe kommunikasie is die sleutel tot gesonde konflikhantering. Tegnieke soos om ‘ek’-boodskappe te gebruik in plaas van kritiese of aanvallende taalgebruik kan ʼn groot verskil maak. Dit is ook wys om weg te stuur van veralgemening soos altyd, nooit, alles en almal. Die intensiteit van konflik neem dikwels ook af wanneer ʼn mens daarna streef om aktief te luister en werklik begrip te kry vir mekaar se verskillende perspektiewe.
  • Fokus op die oplossing van die probleem eerder as ‘wen’: Die fokus van konflikhantering behoort probleemoplossing te wees eerder as om te wen. Ideaal moet daar gewerk word na ʼn wedersyds aanvaarbare oplossing.
  • Verseker emosionele veiligheid vir kinders: Kinders behoort beskerm te word teen besonderhede van ʼn volwasse vlak, wat hulle onveilig of angstig kan laat voel. Hierdie soort inligting kan eerder privaat bespreek word. Indien ʼn meningsverskil voor kinders plaasvind is dit belangrik om hulle gerus te stel.
  • Volg op met versekerings- en versoeningsaksies: Na konflikte opgelos is, is dit noodsaaklik om kinders te verseker dat die onenigheid deurgewerk is en dat alles na normaal teruggekeer het. Wanneer ons vergifnis en versoening modelleer, leer ons kinders dat konflik ʼn normale deel van verhoudings is en dat ʼn mens nie daarvan hoef weg te skram nie.

Alles in ag genome, is die vraag dalk nie of ons voor ons kinders moet verskil nie, maar eerder of ons bereid is om te leer hoe om dit reg te doen, op ʼn manier wat hulle kan naboots sonder negatiewe gevolge? Dis veel makliker gesê as gedaan maar ons kinders, die volgende generasie ouers, is die tyd en aandag wat dit vat om hierdie vaardighede te bemeester, werd.

  • Hierdie is die tweede artikel in ʼn reeks rubrieke en podsendings oor ouerskap en die volgende artikel sal op 6 Junie verskyn. Lourindi is reeds vir die afgelope 20 jaar ʼn kinder- en volwasse-berader in Centurion. Sy is gelukkig getroud en die trotse ma van vier kinders – ʼn 17-jarige, ʼn 9-jarige, en ʼn tweeling van 5. Haar passie is om gesinne te bemagtig deur ouerleiding, ouerskapwerkswinkels en enige ander moontlike manier om gesond en gelukkig te funksioneer. Volg haar op Facebook of Instagram, of stuur ʼn WhatsApp na 062 374 2847.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.