Lesersbrief: Wanneer jou kinders jou agter los

Wendy Smith skryf:

(Foto: Unsplash)

Na aanleiding van die artikel deur dr. Sulette Ferreira oor “die wat agterbly”.

Alles is inderdaad soos dit beskryf is. Ek stem saam.

Mense kyk altyd met verligting na die wat “agterbly” en sê goed soos “dis soveel beter, want hier is nie hoop in die land nie, dit is beter vir jou kinders”.

Elke keer wanneer ek dit hoor, staan daar ʼn vuur in my op wat die woorde wil verswelg. Want ék bly nog in hierdie land, ék glo daar is hoop, ék glo as meer mense bly, sal dit beter word. As ons kon saam staan soos elke voorvader of kryger of wat ook al, sou ons kultuur en ons taal nie sterf nie.

Ek glo in die krag van families. Dis juis die einste taktiek wat in oorloë gebruik is om ʼn land op sy knieë te dwing – vernietig die familie. En dis presies wat emigrasie doen. Dit vernietig families, dit steel die stories wat oumas en oupas vir hulle kleinkinders kon vertel. Dit ontneem ouers en grootouers die Goddelike voorreg om te kon deel in menslewens waaraan hulle help vorm het.

Dit is vir my gruwelik om te weet, eendag wanneer die mens wat jou geleer het hoe om te loop en te praat, wanneer hulle kwesbaar oud is, dat iemand anders hulle soos ʼn winkelpop sal heen en weer skuif. En net eendag sal bel (of ʼn boodskap los afhangende van die tydsone) om te vra wie die begrafnis reël.

Ek sal vir ewig weier om te aanvaar dat dit goed is vir enigiemand. En ek sal vir altyd bly wonder watter vreemdeling my tot by my laaste rusplek sal vat en of iemand darem sou seker maak dat dit wat vir my waardevol was, nie in die vullistrok gegooi word nie. Ek sou, en ek dink almal wat agterbly, sou net so ʼn bietjie waardigheid wou hê.

Wanneer kinders jou agter los, wonder ʼn mens altyd oor jou waarde, jou eie menswees wat nie genoeg was om hulle te kon leer hoe belangrik familie regtig is nie.

En ek is kwaad vir almal wat sê dis beter, want dit is nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Carol ·

Ek dog dis net ek wat so voel en ons het nie eers kinders nie. Wel talle familie wat oor die waters is en minder wat agtergebly het. Ons Kersfeeste was groot familiegeleenthede, nou is dit net 2 of 3 of niks en weer groot aan die anderkant, want dis waar almal is. Ek voel jou. Ons kon gaan as ons wou, maar het gekies om te bly.

Danie ·

Die wat agterbly is dan ook baie keer die wat trots die land in die huidige bestel help in bokspring het, al was die op ‘n akademiese fantasie gebaseer. Daar is ongelukkig / gelukkig altyd gevolge vir sulke besluite. Die probleem is dat die meeste van die bokspringers verwag dat ander dit moet dra.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wees dankbaar indien jou kinders en kleinkinders in die buiteland floreer. Vra jouself, hoekom is hulle skepties oor hul toekoms hier. Het ons generasie wel genoeg gedoen om hoop te skep. Kon ons dalk meer gedoen het om iets beter te skep wat ons kinders kon erwe. Indien jou kinders slap lê in hul nuwe land sal jou kleinkinders ook eendag êrens heen emigreer. Dalk terug na SA.

Aldie ·

Miskien moet oms weer Offerland gaan lees. Dosyne politicking partye?? Ons kinders is teninste versorg in ander lande.

John ·

Baie egosentries. Wat gebeur met jou kinders wanneer hulle oud word in hierdie land? Jou kleinkinders gaan nie jou kinders kan versorg nie.
Niks doen was jou keuse.
Wees bly dat hulle n beter lewe kon maak daar buite!

Piet Snot ·

Wendy, ek stem saam. Ek wens daar was vir my ‘n toekoms in ZA. Maar dan sou ons in die plakkerskamp eindig (vir seker).
Ek wens daar was ‘n lewe vir my kinders. Maar hulle is wit.
Ek wens ek kon my ma by ons laat bly in die vreemde. Maar sy sal vergaan sonder haar vriendinne.
Ek wens, ek wens…

Truth2bfree ·

Kyk niemand na SkyNews nie? Dinge reg deur die wereld gaan rof. En ja ek het genoeg rondgereis om te weet dinge op sigwaarde is pragtig, maar dit gaan nie noodwendig beter ekonomies of emosioneel met die mense nie.

Truth2bfree ·

Ek het in April maand hele paar oorsese toeriste ontmoet. Party van Colorado in die USA, ander van Holland, Engeland en ook Duitse toeriste. By almal het ek gevra wat hul geniet van die land? Die antwoord kom vinnig: “You are so lucky to stay here”.
En dan brei hul uit oor die vriendelike mense, die lekker restaurante, die skoon en netjiese verblyf/hotelle, die wildsreservate, die pragtige natuurskoon langs die kuslyne & die karaktervolle plattelandse dorpies.
Ek dink ons kyk als mis.

Vriendelike Frikkie ·

Ons moet tog net nooit vergeet dat die meeste van ons voorvaders het na SA ge-emmigreer weens vervolging en slegte omstandighede in die hul lande van herkoms. Nou is dit ons kinders se beurt om vir hulself ‘n beter toekoms te beding. Die wiel bly draai. Oor 150 of 250 jaar immigreer hulle nagesagte dalk terug hierheen.

Anel ·

Ek stem saam. Mense besef nie hoe gelukkig en welaf ons eintlik hier is nie. Die gesondheidsorg hier is nog van die beste. Jy kan oor die toonbank koop, jy kan na die dokter of spesialis van jou keuse gaan. Jou kinders jan na die skool van jou keuse gaan. En nog soveel meer. Mense wat gelukkig is in die buiteland is regtig in die minderheid. En hulle is ook maar eensaam en mus hul familie. Die gras is nie altyd groener aan die anderkant van die draad nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

@Anel, wag totdat die NGV ingestel word, dan praat ons weer. Asook BELA en verdere raswette wat ons noop om prakties te dink. Ken jy die storie van die padda in die pot?
@Truth2bfree, elke land het twee kante. Maar dit wat jy noem as voorbeelde is vir 90% van ons mense nie beskore. Wie kan nou reis in die binneland om dit te geniet. Ek sal vir mense in Guatemala en Honduras ook aanraai om in hul pragtige lande te bly, maar die verval en armoede dwing hulle om te verkas na die VSA.

Hussin ·

Wat ek interessant vind is die deel “of iemand darem sou seker maak dat dit wat vir my waardevol was, nie in die vullis trok gegooi word nie” Vreemd. Wat verwag jy moet daarmee gebeur? Wil jou regtig jou kinders met jou gemors opsaal? Want wees verseker, dit is net vir jou waardevol en in geheel gesien absoluut niks werd nie. Net ‘n las. Wees tog net prakties.

Marinda ·

Liefste Wendy, ek het spesiaal ingeteken om vir jou uit my hart uit ñ drukkie te stuur. Jy kyk verby al die wêreldse voordele en sien die verlies aan ewigheidswaarde oomblikke raak; wyse vrou. Ek voel diep saam met jou, en dra jou en almal wat soos jy voel in my hart en gebede. Mag jy geesteskinders en -kleinkinders langs die pad raakloop; geestelike familie wat in jou ñ matriarg sal vind.

Pieter ·

Wendy voel jy nou beter nadat jy dit uitgekry het? Dit vat nogal emosionele insig om jouself in iemand anders se skoene te sit en jouself te vra waarom hulle gedoen het wat hulle gedoen het. Of jy kan net aan al die dinge dink wat nou vir jou moeiliker is en die onderliggende redes ignoreer, dis veel makliker tog?

@Truth2bfree Ek was nou al ook in ‘n paar lande en weet jy wat se ek vir almal van Namibië tot Duitsland. Ek se vir die mense hulle het ‘n mooi land met vriendelike mense want dit is waar vir almal. Watter land is lelik met bose mense? Ek sal ook graag wil hoor hoe jy iemand oortuig wat die maand nie kan bekostig om beide huur en brandstof te betaal nie dat dit die moeite werd is om hier te bly want die jy is tegnies in dieselfde land as die Kruger wildtuin?

@Anel Jy kan dalk toegang kry tot al daardie wonderlike dinge ek kon nie (en ek dink daar is meer mense in my posisie as in joune). Daar was ‘n tyd wat ek moes kies vir ‘n baie basiese mediese plan, as iets verkeerd geloop het het ek alles verloor.

Tyd om te Trek ·

Dit is beslis nie maklik om jou geboorteland te verlaat nie. Dit is ook nie vir almal nie, dit is een van die moeilikste goed wat ek in my 50 lewensjare gedoen het. Jou kop sê een ding en jou hart sê ‘n ander ding. Die verlange na jou land bly altyd met jou, maar die afstand maak dinge ook makliker. Dit is ongelooflik hartseer om die generasie te wees, wat moet kies tussen twee generasies. Jou ouers agter te laat sodat hulle kleinkinders eendag kan keuses hê. Ja, hierdie is nie hulle geboorteland nie, maar hier word darem nie teen hulle gediskrimineer nie, nie in die skool of die universiteit of die werk nie. Hier dra hulle nie ‘n onregverdige klag van verdraaide geskiedenis op hulle skouers nie. Hierdie is nie hulle land, maar is SA regtig nog hulle land? Dit is beslis nie meer die land waarin ek groot geword het nie. Soos alles in die lewe is niks net goed of net sleg nie. Daar is nie net een regte ding om te doen nie. Wat vir jou werk, werk nie noodwendig vir my nie. Maar ek moet erken, ons is nie die enigste mense wat hierdie moeilike pad gestap het nie. Hier is nou al so baie van ons, die kinders en onderwysers praat Afrikaans op die hokkieveld en in die skool gange. Vir ons gesin is hier waar ons nou moet wees. Waar die Here ons nou gebruik om die evangelie te versprei en hoop te bring in ‘n wêreld wat dit nodig het, waar ons bid en werk, bou en sweet, lag en ook verlang.

RS ·

My geval, Ek het ook ambisie om oorsee te gaan, al is dit vir n vakansie of vir werk. Ongelukkig kan ek nie. Ek het n bejaarde moeder wat nie na haarself kan omsien meer nie. Sy weier om na n ouetehuis te gaan, dus moet ek en my gesin nou vir haar sorg en ons drome maar op wolke sit en laat weg waai. Die ander kind indie familie het reeds baie jare terug oorsee gegaan en vir haar/hom self n goeie lewe gaan maak. Hier sit ons in Suid-Afrika en sukkel met werk, sukkel met inkomste.

Delia ·

Laat elke mens maar toe om hulle eie opinie te hé sonder om mekaar persoonlik te beledig.

Truth2bfree ·

Wel RS, dan het ek vir jou goeie nuus!! Jy bly is SA, so hier is dit moontlik om vir jou ‘n dierbare huishulp te kry om vir 2 weke na jou moeder te kyk, terwyl jy bietjie kan reis en net die goeie dinge kan gaan geniet van ‘n nuwe land.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ai, Truth2bfree, sal jy jou bejaarde ouer in die hande van ‘n betroubare huishulp laat en oorsee rondkarjakker. Jy het geen idee wat haar agtergrond is nie. Nou moet sy noodbesluite oor jou ouer se welstand neem. Indien sy ‘n persoonlike krisis het, wat dan. Dalk vra sy haar sussie se skoonma om oor te neem. RS sê tog duidelik dat werk en inkomste ‘n probleem is.

RS ·

@Truth ek kan dit juis nie bekostig nie, sou wel moontlik wees as ek n werk kon kry wat goed betaal oorsee vir dit waarvoor ek gekwalifiseer is. Hier in SA werk ek as n kassier, is gekwalifiseerde kantoor bestuurder. Groete, mooi dag.

Pieter ·

@Truth2bfree Waarom dink jy dis ‘n goeie ding dat daar mense is wat vir byna niks vir jou in jou huis kom werk nie. Is dit nie aaklig dat dit moontlik is nie.

Koen ·

@RS ai tog…Ten minste het jy nog ‘n ma om voor te sorg. Jy klink soos ‘n regte Klafrikaner.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.