Vandag se sportnuus

Laura Wolvaardt op die aanval. (Foto: Twitter)

Krieket:

  • Een van die Protea-vrouekrieketspan se blinkste juwele, die 21-jarige Laura Wolvaardt, het ’n kontrak onderteken om vir die Adelaide Strikers in Australië se Big Bash League te speel.

Die talentvolle kolwer het met drie toekennings – waaronder krieketspeler van die jaar – by Krieket Suid-Afrika se virtuele toekenningsgeleentheid weggestap.

Sy het vantevore al vir die Brisbane Heat gespeel.

  • Pakistan staan op 139/2 ná die eerste dag van die eerste toets teen Engeland op Old Trafford.

Veral Babar Azam (69) en Shan Masood (46) het goed weerstand teen die Engelse boulers gebied voordat reënweer die dag se spel in die wiele gery het.

Chris Woakes (1/14) en Jofra Archer (1/23) het onderskeidelik van Azhar Ali (0) en Abid Ali (16) ontslae geraak.

Tog het die wêreld se suksesvolste snelbouler – paaltjiegewys altans – gesukkel. Die 38-jarige James Anderson is vir ses grenshoue in sy openingskof geslaan, terwyl hy ook ’n foutbal afgestuur het; slegs sy vierde een in 153 toetse.

Rugby:

  • In die naweek se Aotearoa-reeks speel die Chiefs en die Hurricanes Saterdag om 09:05 teen mekaar, terwyl die Crusaders en die Highlanders mekaar Sondag om 05:35 aanvat.

Die Crusaders (24 punte) is tans die voorlopers in die reeks, gevolg deur die Blues (22 punte), die Hurricanes (16 punte), die Highlanders (10 punte) en die Chiefs (5 punte).

Gholf:

  • Rory McIlroy sal vandag om 17:33 saam met Tiger Woods by die PGA-kampioenskap op TPC Harding Park afslaan.

Suid-Afrikaners soos Louis Oosthuizen en Christiaan Bezuidenhout is ook hier in aksie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.