Andile Solutions is banke se tegno-steunpilaar

andries-brink-klipkouers

Andries Brink. Foto: Verskaf.

Jacques Basson van Klipkouers gesels met Andries Brink, stigter van Andile Solutions. Die organisasie voorsien in banke se unieke tegnologiese behoeftes.

Vertel ons bietjie meer omtrent jouself.

Ek het grootgeword in Suid-Afrika. My pa was eers ʼn onderwyser en toe ʼn skoolhoof, so ons het maar agter sy bevordering aan getrek. Sodoende het ek ʼn redelike groot deel van die land gesien; ek het op klein dorpies gebly soos Klawer en Aliwal-Noord, en uiteindelik in Kaapstad beland waar my pa hoof was van Panorama Laerskool. Ek het op Stellenbosch studeer en woon tans in Johannesburg. Ek en my vrou was vir ʼn paar jaar oorsee, maar is nou terug in goeie ou Jo’burg!

Tot dusver was my loopbaan  gefokus op wat ek gestudeer het, nogal interessant, spesifiek rondom wiskunde en tegnologie. Stellenbosch het in my tyd ʼn graad aangebied wat begin het met aktuariële wetenskap en ek het toe geëindig met ʼn rekenaarwetenskap-agtergrond. Dit was eintlik nogal ʼn baie goeie keuse in baie opsigte. Ek dink dis ʼn bedryfsveld wat baie gegroei het, met ander woorde, die finansiële tegnologiese aspekte ten opsigte van finansieringsbesluite. Ek het my loopbaan op daardie fondament gebou tot waar ek nou is, van waar ek en ʼn paar vennote so agt jaar gelede Andile begin het. En vandag is Andile ʼn lekker groeiende jong maatskappy wat van krag tot krag gaan.

Gee ons ʼn opsomming van die tipe besigheid en bedryf.

Ons is by kapitaalmarkte betrokke. Ons is ʼn finansiële professioneledienste-firma, wat beteken dat ons hoofsaaklik konsultasiewerk doen waar ons banke en soortgelyke spelers help om stelsels in te stel, verander en verbeter, asook hulle stelsels nasien. Ons gebruik basies wiskundige en statistiese ontleding asook tegnologie om dit te kan doen. Ons werk met allesomvattende stelsels; dis beheerstelsels vir ʼn bank se hele verhandelingskamer. En as ek sê “verhandeling” bedoel ek álles – van die bemarking van hulle finansiële produkte, die risikobestuur, die verhandeling self tot die operasionele bestuur – dus van voor tot agter. Dis basies die bedryf waarop ons fokus.

Watse tipe probleem los jou besigheid op?

Ons los die vraag na kundigheid op. As ek dit  in ʼn enkele sin moet stel; daar is geweldige vaardigheidstekorte in die hele wêreld, dit is nie net ʼn Suid-Afrikaanse probleem nie. Dit is akuut by ons en ook in die res van Afrika. Dit is egter nie net ʼn kundigheidsprobleem nie, dit is ook dat organisasies hulself struktureer met die soeke na ʼn elastiese tipe kundigheid. Met ander woorde, hulle doen ʼn groot projek, maar  wil nie mense aanstel om die projek te doen nie, hulle wil eerder ʼn projekspan inkry. Ons bied hulle daardie kundigheid wat kan inkom en uitgaan oor die tydperk van ʼn projek.

Wat maak jou anders as jou kompetisie?

Ek dink in die Suid-Afrikaanse konteks is ons die enigste Suid-Afrikaanse firma wat doen wat ons doen, so ons het baie internasionale kompetisie. Ek dink ook die feit dat ons Suid-Afrikaans is, maak ons anders in die opsig dat ons dienste van internasionale gehalte bied, maar teen Suid-Afrikaanse pryse. Dit is definitief ʼn differensieerder. ʼn Ander ding wat ons laat uitstaan, is dat ons risiko’s waag. Dit beteken ons sê vir die kliënt dit gaan nege maande neem en dit gaan jou R100 kos, en ons gaan dit vir jou doen binne nege maande vir honderd rand, en dan doen ons dit. Ons onderskryf dit dan deur ons mense sodanig op te lei en in te span soos ons weet die beste metode is. So, ek dink dis ʼn groot onderskeiding. Dis ʼn baie moeilike ding om te voorspel; ons is gewoonlik maar katvoet om te vinnig vastekoste-projekte te doen waar ons daardie risiko waag. Ons hou daarvan om dit te doen met kliënte met wie ons al een of twee projekte agter die blad het, want dan verstaan ons hulle goed.

En dan, nóg belangriker, is dat ons werklik in ons firma belê en in ons mense. Ons belê ook in  tegnologie, en ons bou ons eie goed. Dis ʼn tweede fase van ons besigheid waarmee ons nou besig is oor die afgelope twee, drie jaar. Dis lang siklusse en dis groot besluite, want die goed is maar duur. Jy werk met duur tegnologieë, met duur mense, en ʼn ou kan groot foute maak. Juis omdat dit so duur is, is nie almal bereid om daardie investering te doen nie, maar ons het so ʼn bietjie meer ambisie wat daartoe lei dat ons werklik baie in ons infrastruktuur belê.

Ons weet nou julle teikenmark of ideale kliënt is in die finansiële sektor, maar is daar ander bedryfsrigtings wat ook aantreklik is?

Ek dink as jy met my praat, moet jy besef my maatskappy is besig om ʼn tweede fase van ontwikkeling in te gaan. Ek dink ná sewe jaar is dit ʼn algemene tendens, want die boeke sê dit behoort te gebeur. Dit maak dit nie makliker of minder interessant as dit gebeur nie, maar ons is beslis besig met daardie tweede fase vir ons. Tradisioneel is ons eerste fase maar rondom die professionele dienste, konsultasiedienste, projek-inwerkingstelling en so meer. En daar het ons min kliënte, want ons teikenmark is klein, dis baie gefokus, baie gespesialiseerd – en ons soek nooit eintlik ekstra kliënte nie.

Ons is nie ʼn firma wat vreeslik bemark nie. Ons bemark wel, maar ons bemark deur ons werk. Ons het ʼn webwerf, maar ek dink nie ons het al ooit betaal vir ʼn advertensie nie, want dis nie hoe die bedryf werk nie. Dit is absoluut ʼn bedryfsveld van vertroue en ook baie klein – mense praat met mekaar. So, jy moet die vertroue opbou in die bedryf self en dit is dan op die ou end die bemarking.

Die soort diens wat ons bied, is nie effens nie. Dis nie ʼn kommoditeitstipe diens nie. Daar is altyd iets anders, daar is altyd nuanses en verfynings wat ʼn mens moet doen en die markte skuif natuurlik ook so vinnig. Veral ná die wêreldkrisis in die finansiële markte moes ons baie aanpassings maak rondom werksmetodes en weet waarna die ouens soek. ʼn Mens leer maar die hele tyd. Dis hoekom dit ʼn verhouding moet wees wat weerskante toe werk.

Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het?

Dis ʼn lekker vraag. Ek is ʼn entrepreneur, so ek het van kleintyd af al daar in die Kaap, toe ek nog sommer op skool was, naweke klere verkoop op die treinstasie, of ek het altyd ʼn ding aan die gang gehad. In Klawer was ek sewe of agt jaar oud, toe staan ek al langs die pad en verkoop druiwe en vye uit ons tuin. Ek glo ʼn mens word as entrepreneur gebore; ek glo nie jy kan dit aanleer nie, want daar moet ʼn ingebore lus wees om ʼn transaksie te beklink. So, van die grootste foute wat ek gemaak het, was maar weens hierdie inherente dryfveer om ʼn transaksie te wil doen. Ek het ʼn enorme houtbesigheid in Gaboen gehad, maar ek dink nie my vrou kon in ʼn stadium eens skoene koop nie, want al die spaargeldjies was opgebruik. So, dit was ʼn groot fout.

Dit sluit nou weer eens mooi aan by die volgende vraag: Jy kies jou kliënte versigtig, en dit gee jou ʼn groter kans op suksesvolle dienslewering wat op sy beurt weer vir jou nuwe werk gaan inbring?

Presies! Ek sou dink die mense wat vir Andile werk, is intelligent, en die soort mense wat hulself oor tyd wil bewys. Dis mense met ingewikkelde grade wat hulle bekom het, meer as een soort. Dis baie belangrik vir my dat my maatskappy aanhou wen. Met ander woorde, ons moet aanhou goeie werk lewer, konsekwent wees en gedurig diens lewer sodat ons heeltyd onderstreep: dís wat ons doen, dís waarin ons goed is en dís hoekom dit lekker is, want ons wen en ons maak ʼn sukses. Sukses bou sukses.

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in die besigheid?

Ons as besigheidsmense het mos maar altyd illusies van hoe ons die ding wil laat groei, en dan sommer teen duisend persent laat groei en so aan. Maar ons kan nie, want ons kan nie ons produktiwiteit na hartelus opjaag nie. Dit neem geweldig baie tyd om mense op te lei. Ek sê altyd ons kry dikwels slim jong mense wat vir ons wil kom werk, dan het hulle sê nou maar ʼn ingenieursgraad en ʼn honneurs in finansiële wiskunde of so. My boodskap aan hulle is altyd: “Ons gaan jou afbreek; vir twee jaar gaan jy in ʼn loopgraaf sit en die harde werk doen.” Dit is wat werk, dis hoe ons mense kry om werklik te verstaan van onder af boontoe, en dan is hulle op hulle beste as hulle daar uitkom.

So, dis die grootste pyn, dit vat maar tyd, dis ʼn moeilike ding om op skaal te kry as mens gulsig raak – en ons het dit al ʼn paar keer gesien met ouens wat te vinnig wil groei en te veel werk aanpak. Dis dan wanneer jou gehalte afneem en dan is die einde in sig, want dis eintlik ʼn klein gemeenskap wêreldwyd waar almal maar praat. Die grootste pyn is die tempo waarteen ʼn mens kan groei in spesifiek die professioneledienste-aspekte van ons besigheid.

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Hulle kan na ons webwerf gaan, www.andile.net, of hulle kan my e-pos by [email protected]

NB! Onthou om na Andries Brink as mens se onderhoud te luister.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

maraai ·

Baie dankie. Ek het onlangs my eie (klein) onderneming begin, en ek neem elke bietjie in wat ek van groot ouens, soos jy, kan leer. Dis nie maklik nie en verg BAIE harde werk, en soms uitmis op sosiale geleenthede. Maar hoe harder mens werk, hoe beter gaan dit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.