FaceApp: Is jou private inligting veilig?

Talle gebruikers gebruik FaceApp om hulself dekades ouer te laat lyk as deel van die #FaceAppChallenge-veldtog. (Skermskoot: FaceApp)

Indien jy gereeld tyd op sosiale media deurbring, is dit hoogs waarskynlik dat jy in die afgelope paar weke talle foto’s op jou tydlyn gesien het van jou vriende en familie as bejaarde ooms en tannies met die hutsmerk #FaceAppChallenge.

FaceApp het behoorlik Facebook, Twitter en ander sosialemediaplatforms met mening getref en blykbaar kan min gebruikers die versoeking weerstaan om te loer hoe hulle gaan lyk as hul eendag oud is.

FaceApp is ʼn gratis app wat kunsmatige intelligensie gebruik om ʼn foto van ʼn persoon te verander sodat die persoon dekades ouer lyk. Meer as 80 miljoen mense het reeds dié app afgelaai en gebruikers deel graag hul “bejaarde” foto’s op sosiale media tot groot vermaak van hul vriende.

Maar hoe veilig is die app regtig?

Sedert die app se wegholsukses, het talle sosialemediagebruikers kommer uitgespreek dat dié app net ʼn manier is vir die app se ontwikkelaars om sensitiewe en persoonlike inligting te bekom. Bewerings het vinnig versprei dat dié app al die foto’s op jou selfoon outomaties oplaai sonder dat jy dit weet. Nóg ʼn gerug wat die ronde doen, is dat die app deur ʼn Russiese maatskappy ontwikkel is wat gebruikers se gelaatstrekdata invorder.

Chuck Schumer, leier van die Demokrate in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, het Woensdag in ʼn brief aan die FBI en die Federale Handelskommissie sy kommer uitgespreek dat FaceApp “’n nasionale sekuriteitsrisiko en privaatheidsrisiko’s vir miljoene Amerikaanse burgers inhou”. Schumer het die twee agentskappe gevra om die saak te ondersoek.

Will Strafach, ʼn sekuriteitsnavorser en uitvoerende hoof van Guardian Firewall, sê egter dit is nie waar dat die app toegang tot al jou foto’s kry sonder jou toestemming nie. Die app gebruik slegs die foto wat jy kies om op te laai, sê hy.

Jy het die opsie om die app toegang tot jou hele fotobiblioteek te gee, maar selfs dan is daar geen bewyse dat die app enige foto’s oplaai behalwe die wat jy spesifiek kies nie. “Ek is altyd op die uitkyk vir privaatheidskwessies,” sê Strafach, wat ʼn netwerkanalise-instrument gebruik om waar te neem wat gebeur.

Hy waarsku egter dit beteken nie die app hou geen probleme in nie. Foto’s wat deur die app opgelaai word, in beide die iPhone‑ en Android‑weergawes, word na die wolk gestuur om verwerk te word, wat dié foto’s aan kuberkrakers en ander probleme blootstel.

FaceApp se privaatheidsbeleid stel dit ook dat data van die app gebruik word om geteikende advertensies te bedien en nuwe produkte en funksies te ontwikkel. Die app sê hy verkoop nie data aan derdeparty-apps nie, maar lys verskeie uitsonderings op dié reël, insluitend een wat hom toelaat om data te deel nadat inligting wat gebruikers identifiseer, verwyder is.

FaceApp is ontwikkel deur Rusland se WireLess Lab en kan ook gebruik word om gebruikers jonger te laat lyk of as die teenoorgestelde geslag uit te beeld.

Wireless Lab het aan TechCrunch gesê hoewel hulle gebruikers se foto’s in die wolk stoor, word “die meeste” na 48 uur uitgewis. Volgens die maatskappy word geen gebruikerdata na Rusland gestuur nie.

Die maatskappy het verder gesê gebruikers kan versoek dat hul data uitgewis word.

FaceApp kan gebruik word om gebruikers ouer te maak, jonger te laat lyk of as die teenoorgestelde geslag uit te beeld. (Skermskoot: FaceApp)

Strafach meen egter dit is veiliger om nié die app te gebruik nie. Hy meen die app-ontwikkelaars moes eerlik gewees het deur dit aan gebruikers duidelik te maak dat die foto’s in die wolk verwerk word en nie op die foon self nie. “Die punt van die saak is hulle hanteer sensitiewe data en hulle hanteer dit met minagting en dit is nie reg nie,” het hy gesê.

Elizabeth Potts Weinstein, ʼn sakeprokureur in Silicon Valley, het op haar beurt aan The Washington Post gesê haar grootste kommer is wat met die data gebeur as daar veranderinge kom in die maatskappy wat die app besit.

“As hulle sou vou, sal al hulle data en bates gekoop kan word deur iemand met immorele bedoelings of dit kan aan die nasionale regering [van Rusland] toegewys word. In die VSA het ons geen jurisdiksie oor hulle nie,” het sy gesê.

Indien jy die app gebruik het en bekommerd is oor jou data, sal dit nie help om bloot die app van jou foon af te vee nie. Volgens ontwikkelaars moet gebruikers wat hul data van FaceApp wil verwyder deur die app na “settings” gaan, dan klik op “support”, dan “Report a bug” en dan daar die versoek stuur met “privacy” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

emily ·

Ja, nee en more is jy sommer met n Rus of wat ookal getroud. Nee wat stel nie belang in die strooi nie.

Jess ·

Ek het die app vir minder as 24uur op my selfoon gehad. Een of 2 fotos Verander, gesien dit is simpel en toe uninstall ek die app. Betekin dit dat ek nou die app weer op my foon moet installleer sodat ek die nodig stappe kan neem om die data te verwyder?

Johan Swart ·

Maar dis okay om Facebook,Google,Android,Microsoft Windows 10 en WhatsApp te gebruik….die grootste data myners ooit…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.