Volkswagen het Donderdagaand sy splinternuwe handelsvoertuig bekendgestel. Sedert 1975 dien die VW Crafter as pakdonkie oor die hele wêreld. Die nuwe Crafter is die vierde weergawe en beweeg heeltemal weg van die ooreenkoms met Mercedes-Benz wat die derde generasie betref. Die nuwe Crafter is heeltemal nuut en 100% Volkswagen. ʼn Nuwe fabriek is in Wrzesnia, Pole, gebou om die nuwe Crafter te vervaardig.
Die nuwe Crafter is as die handelsvoertuig van die jaar in 2017 aangewys. Twee eienskappe van die Crafter staan ooglopend uit. Eerstens is dit ʼn VW. Die paneelbord, stuurwiel, instrumente, rathefboom en so aan is alles soos mens dit sou kry in ʼn VW-passasiervoertuig. Tweedens is die uitstekende veiligheid- en bystandstelsels. Die Crafter het ook parkeer- en sleepwahulp. Jy kan ʼn sleepwa parkeer met die gebruik van die knoppie wat die spieëltjies stel.
Volkswagen het hande gevat met verskeie ombouingsmaatskappye wat ʼn Crafter kan aanpas vir jou onderskeie kommersiële doeleindes, of dit nou ʼn ambulans, lykswa, taxi, of shuttle is – daar is reeds oplossings verkry met vervaardigers wat aan SABS-vereistes voldoen, en ombouings wat deur dié maatskappye aangebring word, sal nie jou voertuigwaarborg beïnvloed nie. Daar is verskeie laaibakvolumes beskikbaar, met drie verskillende lengtes en drie verskillende hoogtes.
Die Crafter 35 is voorwielaangedrewe en geniet dus ʼn 100 mm- laer laaibakhoogte. Die 50-weergawe is agterwielaangedrewe en albei word deur ʼn 2.0-viersilinderturbodieselenjin aangedryf deur ʼn handratkas. Die enjin bied 103 kW en 340 Nm. Volkswagen het geen steen onaangeroer gelaat wat brandstofbesparing betref nie. Die Crafter gebruik tussen 7.3 en 7.6 ℓ/100 km, na gelang van die model. Die Crafter het die laagste windweerstand en sleepkoëffisiënt in sy klas.
Die Crafter is beskikbaar in twee asafstande en drie hoogtes. Die reeks lyk só:
VW Crafter 35 (MCV) Paneelwa | R509 700 |
VW Crafter 35 (LCV) Paneelwa | R588 100 |
VW Crafter 50 LWB (Busombouing gereed) | R625 800 |
VW Crafter 50 LWB Paneelwa | R625 800 |
VW Crafter 50 LWB met oorhang (Busombouing gereed) | R635 800 |
VW Crafter 50 LWB met oorhang, Paneelwa | R635 800 |
Dié pryse sluit BTW en uitlaatgasbelasting in. Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg asook ʼn 5 jaar/120 000 km-diensplan en 12 jaar korrosiewaarborg. Diensintervalle is 20 000 km.
Een vraag:….common rail injectors of unit injectors?..