Wat presies is ʼn kruismodel? Vat ʼn klein na mediumgrootte luikrug, pomp hom op na so 2.5 bar, gee vir hom hoër vering en oulike stilering … en siedaar. Hyundai het twee kruismodelle tans in die mark: die Creta en die Kona. Die Creta het ʼn aangename maar konserwatiewe stilering. Dit het ʼn gaping in die mark gelaat vir ʼn interessante ontwerp – dis die Kona.
Met die oogopslag is die Kona ʼn mooi voertuig. Die stilering is nie vir almal nie, maar vir dié wat iets anders soek, is dit goed. Die binneruim is verbasend goed vir my. Die bougehalte, kwaliteit en luukshede is regtigwaar uit die boonste rakke.
Die Kona het alles … leerbekleedsel, CarPlay en Android Auto, outomatiese ligte en ruitveërs, selfverduisterende truspieëltjie – de lot. Hy’s veilig ook met ʼn vyfster-NCAP-gradering. Wat dié gradering moontlik maak, is blindekolwaarskuwing en agterste kruisverkeerwaarskuwing. Ek bly in ʼn pypsteel en die kruisverkeerwaarskuwing werk puik.
Dié Kona op toets is die 2.0- atmosferiese viersilinderpetrolenjin. Dié enjin gaan gepaard met Hyundai se sesspoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas. Dié enjin bied 110 kW en 180 Nm; 0-100 km/h duik op in ʼn billike 10 sekondes en hy sal aanhou draf tot 194 km/h. Die Kona het ʼn 50 ℓ-brandstoftenk en behoort 7.2 ℓ/ 100 km te handhaaf.
Dit sal ʼn reikafstand van net by die 700 km bied. As mens baie rustig op die oop pad ry, kan die 2.0-Kona so laag soos 6 ℓ/ 100 km bied. Indrukwekkend vir ʼn 2.0-outo.
Op die pad voel die Kona luuks. Die vering is soepel genoeg sonder om hantering te belemmer. Padhouvermoë is in die kol vir ʼn kruismodel. Dit sitplek kan net só stel en die stuurwiel kan vir reik en kantel stel – mens is altyd verseker dat jy heeltemal gemaklik is.
Die Hyundai Kona is ʼn indrukwekkende produk teen ʼn billike prys. Die spesifikasievlak beïndruk en die gehalte is puik. Ek het slegs een kwaal. Die kopligte is vir my dof, veral teenoor die nuwe LED-tipes waarmee van die voertuie nou mee toegerus is.
Die reeks lyk só:
Hyundai Kona 1.0 TGDI Executive handrat | 88 kW/172 Nm | 12 sek | 181 km/h | 6.8 ℓ/100 km | R384 900 |
Hyundai Kona 2.0 Executive outo | 110 kW/180 Nm | 10 sek | 194 km/h | 7.2 ℓ/100 km | R404 900 |
Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg asook ʼn 5 jaar/90 000 km-diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.
Die kompetisie lyk só:
Toyota C-HR 1.2T Plus outo | 85 kW/185 Nm | 6.4 ℓ/100 km | 11.1 sek | 185 km/h | R357 800 |
Mitsubishi Eclipse Cross 2.0 CVT | 110 kW/198 Nm | 7.9 ℓ/100 km | 12.1 sek | 188 km/h | R399 995 |
Subaru XV 2.0i | 115 kW/196 Nm | 5.9 ℓ/100 km | 10.4 sek | 194 km/h | R400 900 |
Nissan Qashqai 1.2T Acenta Plus outo | 85 kW/165 Nm | 6.2 ℓ/100 km | 12.9 sek | 173 km/h | R418 900 |
Honda HR-V | 105 kW/172 Nm | 6.8 ℓ/100 km | 10.1 sek | 188 km/h | R428 300 |
Tussen dié mededingers kies ek die Subaru XV – dit is die enigste produk wat teen dié prys vierwielaandrywing bied en dus ʼn ander dimensie aan die voertuig bied.
Die brandstof verbruik wat maatskappe altyd voorsien , hmmmm ja nee hehehe. Seker teen afdraande , sonder bagasie , klip harde bande, en wind van agter. Drome.