Ek het onlangs vir die eerste keer Honda se HR-V gery. Hy is so twee jaar gelede bekendgestel en ek kon nooit regtig sien waar hy inpas nie. Nou dat ek met hom gery het maak dit vir my meer sin.
Die HR-V speel in die selfde spasie as Nissan se Qashqai. Dit is ʼn kruismodel, iets wat deesdae uiters gewild is vir mense wat nie net ʼn plat luikrug wil hê nie, maar ook nie ʼn groot sportnutsvoertuig nie – iets net so in die middel.
Honda sukkel al jare om ʼn stigma te skud dat dit “oumens-karre” is. Die HR-V is vir my ʼn skuif in die regte rigting, maar tóg verloor hulle nie die eienskappe wat die meer ervare mense in terme van ouderdom so trek nie. Dis nie ʼn lelike eendjie nie, maar sy ontwerp is vir my effe konserwatief. Nissan se Qashqai is vir my ʼn baie mooier voertuig.
Die binneruim is ergonomies uitgelê en bly eenvoudig. Alles is waar dit hoort en die HR-V se lugreëling werk fantasties. Die outomatiese ligte en ruitveërs werk lekker.
Die inligtingstelsel pas wel nie vir my by die res van die voertuig nie. Dis ʼn na-mark eenheid en Honda kon beslis hier beter gedoen het met ʼn raakskerm wat beter integreer. Beenruimte vir agterste passasiers is regtig lekker groot, en die kattebak nie te versmaai nie.
Die HR-V ry met ʼn atmosferiese 1,8 viersilinder. Die enjin bied 105 kW en 172 Nm. Nie sleg nie. Ek is nog altyd ʼn groot ondersteuner van Honda se atmosferiese enjins met VTEC. Hulle is lief vir toere en kan ook net lekker rustig loop sonder om swaar te wees op brandstof.
Een ding wat nie vir almal gaan wees nie is die kombinasie van die atmosferiese enjin en die palwissel-transmissie. Dis beslis nie die slegste CVT wat ek al teëgekom het nie, maar as ʼn mens wil verbygaan of moet vinnig spoed optel dan klim die toere tot 6 500 r/min en hy raas. Honda het wel die transmissie geprogrammeer sodat hy ratwisselings na-aap, maar dit klink steeds aardig.
Ritgehalte is lekker sag in die HR-V. Sy bande het ʼn goeie profiel en dus loop
hy nooit stamperig nie. Padhouvermoë is goed, nes ʼn mens verwag van ʼn Honda – al gaan meeste HR-V bestuurders nooit só ry nie. Ek het ʼn paar grondpaaie aangedurf op pad na ʼn troue toe in die Magaliesberge, en die HR-V gedra hom baie goed.
Die HR-V is vir my ʼn lekker voertuig, maar die mededingers is baie sterk in dié segment. Kruismodelle soos die Nissan Qashqai kan nie ignoreer word nie en die Subaru XV se vierwielaandrywing sit hom in ʼn klas van sy eie.
Die reeks lyk só:
Honda HR-V 1.5 Comfort CVT | 88 kW/ 145 Nm | 6.2 ℓ/ 100 km | R354 900 |
Honda HR-V 1.8 Elegance CVT | 105 kW/ 172 Nm | 6.8 ℓ/ 100 km | R419 900 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 4 jaar 60 000 km diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Suzuki Vitara 1.6 GL+ outo | 86 kW/ 151 Nm | 5.9 ℓ/ 100 km | 3 jaar/ 100 000 km waarborg 4 jaar/ 60 000 km diensplan | R337 900 |
Hyundai Kona 2.0 Executive | 110 kW/ 180 Nm | 7.2 ℓ/ 100 km | 5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg 7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg 5 jaar/ 90 000km diensplan | R399 900 |
Subaru XV 2.0i | 115 kW/ 196 Nm | 5.9 ℓ/ 100 km | 3 jaar/ 150 000 km waarborg 3 jaar 75 000km omvattende instandhoudingsplan | R400 900 |
Nissan Qashqai 1.2T Acenta Plus auto | 85 kW/ 165 Nm | 6.2 ℓ/ 100 km | 6 jaar /150 000 km waarborg 3 jaar/ 90 000 km diensplan | R418 900 |
Tussen dié mededingers kies ek die Hyundai Kona of Subaru XV.
Ek ry ‘n Honda HR-V vanaf 2015 – die eerstes wat uitgekom het. Ek is baie gelukkig met myne. Ry soos ‘n droom in verkeer met genoeg krag om verby te gaan.