Padtoets: Suzuki Jimny – kleinste pakkie met grootste gif

Die nuwe Suzuki Jimny. Foto: Brendon Staniforth

Die Suzuki Jimny was in 2018 die mees verwagte bekendstelling, nie net van die jaar nie – seker die dekade. Megan MacDonald, Suzuki Suid-Afrika se bemarking‑ en openbare verhoudingsbestuurder sê in haar 33 jaar in die bedryf het sy nog nooit so iets beleef nie.

Die alle nuwe Jimny is bekendgestel – en die bestellings stroom by die handelaars in. Die waglys is tans ses tot nege maande. Suzuki Motor Corporation in Japan het sedert Januarie produksie opgestoot om die agterstand te probeer inhaal.

Daar het byna 5 000 van die vorige model Jimny’s tussen 2008 en 2018 in Suid-Afrika verkoop. Die vorige model was nie sonder sy foute nie – my grootste irritasie met die vorige model was die gebrek aan ewenaarslotte as mens ʼn 4×4‑hindernis navigeer. As mens ʼn groot kruisas‑situasie teëgekom het, was die Jimny verstom en jy’t net daar bly staan tot jy ʼn beter lyn kon ontdek.

Die nuwe Suzuki Jimny. Foto: Brendon Staniforth

As daar nie ʼn beter lyn beskikbaar was nie, was daai hindernis ongelukkig die Jimny se baas. Nie so met die nuwe model en sy Brake LSD nie. Dit is ʼn elektroniese manier om die ewenaar te sluit met behulp van die remme. Ek het talle mense al hoor sê daai tipe stelsels werk nie. Ek het nou al baie tyd met die Jimny deurgebring en ʼn behoorlike 4×4‑roete gaan ry in Groenkloof Natuurreservaat… en die stelsel werk puik.

Die ontwerp is vernuwe, maar daar is elemente van vorige Jimny’s ingewerk sodat dié Suzuki ʼn briljante nostalgiese voorkoms het, al is dit modern. Ek is mal daaroor. Suzuki se ingenieurs het hulle fantasties van hul taak gekwyt om meer ruimte aan die binneruim te skep, met kleiner buiteproporsies. Ja, ek weet ook nie hoe dit moontlik is nie – maar nou ja, hulle het dit reg gekry.

Die binneruim het ʼn baie beter spesifikasievlak as die vorige model. Daar is nou spoedbeheer, outomatiese LED-projektor‑hoofligte, CarPlay en Android Auto, navigasie, klimaatbeheer en outomatiese elektriese vensters. Die agterste sitplekke kan 100% plat slaan en dán is daar verskeie bybehore wat mens vir jou Jimny kan koop.

Die nuwe Suzuki Jimny. Foto: Verskaf

Voorste passasiers het 30 mm meer beenruimte en agterste passasiers 40 mm. Ek verstaan nie hoe dit moontlik is in ʼn kleiner kar nie – maar oukei. Die herontwerp van die agterste wielboë in die binneruim beteken dat agterste passasiers baie meer ruimte het as in die vorige model.

Die nuwe Jimny het ʼn nuwe atmosferiese 1.5‑viersilinderenjin wat 75 kW en 130 Nm bied. Hy is ook heelwat ligter op brandstof as die vorige model. Kopers kan steeds kies tussen ʼn 5-spoed‑handrat of 4-spoed‑outomaties. My keuse is die outo. ʼn Pel wat ʼn vrywilliger is met ORRU (Off Road Rescue Unit) het die vorige Jimny gehad. Hy’t sopas aflewering geneem van die nuwe model en het ook die outo bo die handrat gekies.

Maroela Media se rekenmeester het in November haar eie Jimny ontvang, ook ʼn outo – en ek het haar saam met my deur Groenkloof geneem. Sy’t nog nooit voorheen ge-4×4 nie, en sy’t die hele roete baasgeraak sonder enige skade. Sy was met tye bang, maar het dit verskriklik geniet en kan nie wag tot ons weer gaan 4×4 nie.

Die nuwe Suzuki Jimny. Foto: Brendon Staniforth

So gepraat van 4×4. Die Jimny het ʼn soliede dryfas voor en agter en ʼn leerraam. Daar is ʼn laestrek‑oordragrat en Suzuki se slim ewenaarslotte. Daar is drie modusse, 2H, 4H en 4L. Mens kan in die ry wissel tussen 2H en 4H tot en met 100 km/h. Daar is wegtrekhulp en afdraandbeheer. Die benaderingshoek is 37 grade, oorbruggingshoek 28 en vertrekhoek 49 grade. Almal groter as met die vorige model. Grondvryhoogte is op van 190 mm na 210 mm. ʼn Puik resep vir uiterse 4×4‑vermoë.

Al die opknappings beteken ʼn aangenamer produk op die teerpad. Ja, die Jimny is klein – maar hy’t nog nooit gesê hy is nie. Die bestuursposisie is gemaklik en die nuwe luukshede maak dit ʼn aangename plek om tyd deur te bring. As mens van die pad af dwaal, kan mens regtig die Jimny vertrou. ʼn Totale amateur het ʼn vlak 4‑hindernis met uiterse gemak oorwin – dit spreek boekdele.

Die feit dat daar so wilde waglys is, is ook ʼn goeie ding vir herverkoopwaarde eendag – en Suzuki het ʼn sterk 5 jaar/ 200 000 km‑waarborg en ʼn 4 jaar/ 60 000 km ‑diensplan.

Nog foto’s en ‘n video volg onderaan die berig.

Die reeks lyk só:

Jimny 1.5 GA handratR264 900
Jimny 1.5 GLX handratR299 900
JImny 1.5 GLX outoR319 900

Die kompetisie lyk só:

Mahindra Thar 2.5 CRDe79 kW/247 Nm7,5 ℓ/100 km2 jaar/ 50 000 km‑waarborgR228 999
Jeep Wrangler 3.6 Sahara209 kW/347 Nm11,3 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km‑ waarborg

3 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R658 900
Mitsubishi Pajero 3.2 DI-D GLS 3 deur140 kW/ 441 Nm10,1 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km‑waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R699 995

Al is die Jeep en Pajero nie regtig Jimny‑mededingers nie, is dit die enigste kortasafstand ware 4×4’s nog beskikbaar in die mark, behalwe die Mahindra Thar. Die Thar is die Jimny se enigste ware mededinger – maar het geen lugsakke en kom ook nie met ʼn diensplan nie. Ek is versot op die Jimny, en hy wen die argument altyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marco polo ·

Die nuwe Jimny het meer beenruimte omdat hy groter as sy voorganger is, nie kleiner nie.
Ek ry self die vorige model hier in China en dis n klein karretjie met n groot hart, maar hy is wraggies beknop vir n lang SAner.

Brendon ·

Dagsê marco polo

Baie dankie vir jou kommentaar. Die Jimny is wel 50mm korter as die vorige model. Hy is 45mm breer as sy voorganger – maar dit sal nie help vir beter beenruimte nie.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

marco polo ·

Dankie vir die bevestiging Brendon. Ek is bly om te sien die karretjie het nou n rathefboom vir die 4×4 oordra ratkas, die vorige model se knoppies was nie n goeie idee nie.

Wonder ·

Jammer die artikel noem nie waarom die skrywer die outomaties bo die handrat verkies nie (is daar probleme met die handrat model?) Of wat die verskil tussen die GA en GLX handrat is wat n R35G prysverskil regverdig of nie. Sou graag wou weet

Brendon ·

Dagsê Wonder

Baie dankie vir jou kommentaar. Die GA is het ‘n baie basiese spesifikasievlak, geen elektriese vensters, CarPlay of Android auto, navigasie, outomatiese ligte en so meer. Hy het ook staal wiele – so die GA is regtig vir die puris wat net gaan 4×4 en dalk naweke met die Jimny ry.

Ek verkies die outo bo die handrat weens sy ratverhoudings. Teen 120km/h luier die outo 600 r/min laer as die handrat. Dit maak die Jimny makliker om mee saam te leef op ‘n daaglikse basis. Die outo is vir my ook makliker om mee te 4×4 sonder om skade aan koppelaars te rig.

Ek hoop dit beantwoord jou vrae,

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Hennie ·

3 dinge .wat pla met my nuwe GLA handrat .
1.ESP ..kan nie permanent ontkoppel nie …skakel weer in op 30kpu.In sand beteken dit dat 4WH…nie veel werd is nie …voertuig rem sodra wiele in lug by oorkruisgate in sandspore .Binne 50m rem dit homself vas in die sand
2.Geen daylight running lights vir RSA…ek ry graag vir veiligheid met ligte aan ..Sit ligte aan en alle binne ligte verdog met feilik geen sig op dashboard en skerm .
3.Geen vasmaak plek in agterste deel met sitolekke plat …en met geen net tussen voor en agtersitplekke ..is dit GROOT VEILIGHEIDS RISIKO.
4.PROBLEEM met ESP ..is opgeneem met Suzuki ..met geen positiewe alternatief nie …maw 4WH …is bykans nutteloos in sand ….nie eens dik sand nie ..
Laastens die profiel bande 195x80Rx15 .veroorsak swak padhou vermoe as wind waai …verstaan dat 205x70x15 ..baie beter werk .
Danki .

Johan ·

Dit is ‘n groot jammerte dat Suzuki nie eerder van ordentlike ewenaarslotte (diff-loks) voor en agter gebruik gemaak het nie. Kloukragbeheer (Traction Control / TC) soos in die nuwe Jimny is dalk gebruikers vriendelik, maar ervare en gesoute 4X4-ryers HAAT kloukragbeheer met ‘n passie en soek ewenaarslotte – want ewenaarslotte is BAIE meer effektief en meer pret!!! (Ek’t self ‘n Suzuki Samurai met ‘n na-mark agter ARB diff-lock)

Verder kon hul maar ‘n bietjie groter enjintjie ook as opsie aangebied het…

MAAR, behalwe vir die min krag en geen ewenaarslotte nie – is die nuwe Jimny ‘n PUIK voertuig!!! Ek het al met baie Suzuki’s tedoen gekry, en kan met ervaring sê dat hul betroubaarheid en herverkoopswaarde in dieselfde liga as Toyota is, minus die duur prys. Mens kan met ‘n geruste hart vir jou ENIGE Suzuki aanskaf – hul is almal puik voertuie!!! (Behalwe vir die dorstige, kraglose “oor die muur” Grand Vitara 2.4 en Ertiga 1.4 bussie met sy dooie enjin – vermy hul gerus as nuwe karre, maar gebruik kan hul winskopies raak weens hul ongewildheid)

Ek sal self oor ‘n jaar of twee ‘n Jimny wil aanskaf – en die eerste modifikasies wat ek sal doen is die heelwat frisser Swift Sport enjin insit, en ‘n ARB diff-lock voor en agter! (En Webasto sondak insit, aangesien Suzuki nie ‘n afslaandak soos die ou SJ wil uitbring nie…)

Hennie ·

Stem 100% ..saam met jou ..lees my kommentaar oor die ESP..ASB ..

marco polo ·

Mense wat Traction Control kritiseer, weet gewoonlik nie hoe om dit effektief te gebruik. Die geheim is om jou voet oo die versnellerpedaal te hou, selfs al voel dit asof jy nie gaan vorder nie. En ja, ek is n gesoute 4×4 ryer, voormalige 4×4 instrukteur en ry al jare (in SA) met n 4×4 met TC.

Hennie ·

Thx Marco ..gaan toetsbestuur die Jimny in sand in 4WH …en laat weet asb …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.