Die nutsman en sy gesin verlang na SA

Riaan, Michelle en Rainn Garforth-Venter. Foto: Verskaf

Die geliefde nutsman Riaan Garforth-Venter wat tans saam met sy gesin in die VSA woon, verlang na blatjang en staan bankvas agter die Bokke.

Met dié oorheersende en hoogs aansteeklike Bokkoors oor die hele wêreld, sê Riaan en sy vrou, Michelle, die oud-Top Billing-aanbieder, dat hulle nie net na hul familie verlang nie maar óók na vriende en oudkollegas.

“Vliegtuigkaartjies is ontsaglik duur, so ons gaan regtig baie min na Suid-Afrika,” sê Michelle aan Maroela Media ná hulle al vier jaar gelede na Atlanta, Amerika, geïmmigreer het.

Afgesien van die skep en redigering van stemopnames is joernalistiek, fotografie en sosiale media steeds Michelle se brood en botter.

Deesdae is sy óók ʼn aanbieder op die Amerikaanse TV-kanaal CNN en het selfs al ʼn onderhoud met ál die lede van die musiek-rockgroep Rolling Stones gevoer.

Hul seun, Rainn, wat maar net vyf jaar oud was ten tyde van die groot trek, is nou ʼn volwaardige Amerikaner en praat ook glo nes een.

Hy is tans in gr. 4 en vaar baie goed op skool. Hy bemeester “wiskunde en wetenskap met vlieënde vaandels”.

Rainn is egter ook ʼn kranige sportseun en speel graag sokker en beoefen atletiek. Hy en sy marmot, Pip, is onafskeidbaar, vertel Michelle. “Hulle doen graag saam huiswerk. Pip vreet ook alte graag saam ontbyt wat meestal maar spek en roereiers is.”

In foto’s lyk Riaan goed en gelukkig nes sy dae op die immergewilde TV-program, DIY met Riaan, wat vir 12 seisoene op SABC2 te sien was.

Riaan het “al verskeie kepse” gedra wat werk betref. Hy was onder meer ʼn projekbestuurder in Alabama waar hy die konstruksie van vier studentebehuisingsprojekte bestuur het. “As dit is hoe studentebehuising deesdae lyk, wil ek ook daar woon,” skerts Michelle.

Hy was ook betrokke by die bou en ontwerp van stelle by verskeie handelskoue en feeste. Riaan is tans besig om saam met ʼn vennoot ʼn enorme platform vir ʼn skou in Orlando, Florida, te bou.

Volgens Michelle is die klimaat en die mense van die groot redes waarom hulle so goed in Atlanta kon aanpas. “Die mense is soos Suid-Afrikaners, plat op die aarde, hoor, en die weer hier is baie dieselfde as in Gauteng!”

Michelle se mees geliefde herinnering is egter die somerdonderstorms op die Hoëveld in Gauteng.

Sy beskryf Atlanta-somers as dor en bedompig soos in KwaZulu-Natal en met die winters wat matig is soos in Gauteng.

Ouma Suzie (93), Riaan se ma, se gesondheid het ʼn reuseknou weg nadat sy verlede maand ʼn ligte beroerte gehad het.

“Riaan het ongelooflik hartseer op die nuus van sy ma gereageer. Hy het onmiddellik ʼn vlug na Kaapstad bespreek om haar in Januarie te gaan besoek en hoop om Rainn saam te kan vat,” sê Michelle.

Die Garforth-Venter’s braai elke Sondag langs die swembad en Riaan verduidelik vir die bure van die Suid-Afrikaanse geure en erfenis.

“Ons is mal oor ons biltong en skaaptjops. En ek is nie eens skaam om te sê dat Riaan beter as almal in Amerika kan braai nie,” sê Michelle.

Sy sê ook die gesin sien verskriklik uit na Kerstyd omrede Riaan se jongste dogter uit ʼn vorige huwelik, Margot, ʼn draai by hulle gaan maak. “Rainn is in ekstase om sy ousus te sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

estelle ·

Nee wat Riaan, julle hoef regtig nie terug te verlang nie…

AmY ·

Asb julle, moenie terug kom nie.
Bly eerder waar julle is. Dis veiliger.
Alle seën en voorspoed vir julle. xxx

se maar ook net ·

nee wat ek stem, skakel gereeld in op SA nuus en lees meer koerante dan sal jy gou weer sien HOEKOM julle die skuif gemaak het en dat julle beter af daar is

Marius ·

Riaan ek kan n taxi huur en voor jou kom injaag, alle plastiek wat ek besit op jou sypaadjie kom uitgooi , inbreek by jou huis en die ook bemors en so kan ek aangaan vir bladsye vol dan behoort jou verlange n bietjie minder te wees.

Jaap ·

Ja shame,sleg in USA ne?
Soek net n bietjie aandag.
Bly net waar julle is,veilig daar.????????

Donderstorm ·

Ek verlang ook na die somer donderstorms in Gauteng. ( ek bly in Gauteng) miskien vannaand as ons gelukkig is.

Laetitia ·

Julle lyk baie goed. Het self familie in die buiteland, verlang baie na hulle. Ongelulkig net te duur om hulle te besoek.

Alexz ·

Great man, GREAT! Jy is enige tyd baie welkom om op super kort kennisgewing met my plekke te ruil. Dink net, jy kan dan na hartelus rugby en braaivleis geniet terwyl rowers jou huis leegdra, elke aand aan die slaap gesus word deur harmoniese klanke van huislarms, geweerskote en noodvoertuie met loeiende sirenes. Om nie eens te praat van jou oorlewingsinstinkte wat jy gaan slyp op om paaie nie.
Nee wat broer, bly waar jy is. Dit is die rugby en braai nie werd nie.

sannie ·

Die suid Afrikaanse mense i ook wêreld beker wenners in kla!

schaun ·

Ek wens ek kon hierdie sodom en gemorra verlaat ,Riaan jy weet nie hoe gelukkig jy is om in n land te bly met n leier soos Presedent Trump nie.

MM ·

Verstaan nie hoe mense immigreer en dan nogsteeds vir die Bokke skree en vir hul bure wil leer van SA erfenis nie? Julle het gekies om te gaan en jul bejaarde ouers, familie en vriende agter te laat? Word dan Amerikaners, as jy oorsee gaan word jou kinders Amerikaners, jy leef elke dag saam met die kind? Hoekom aan iets vasklou wat nie daar inpas nie. Ek sal dit nooit verstaan van mense wat oorsee woon nie. Ons lees koerant en sosiale media, maar ons staan elke dag op en gaan aan met ons lewe. Ons is slegs 4 % blankes in hierdie land, ons moet leer om mekaar beter te leer ken, te verstaan en selfs te waardeer. Ek gaan nie oorsee woon met my 4 kinders in ‘n land met geen waardes en geen afhanklikheid van die Here.

RP ·

‘n Mens raak mos nie net eenvoudig ontslae van jou taal, kultuur en erfenis nie? Jy al gehoor hoe Afrikaners praat van hul Franse, Duitse of Nederlandse herkoms? Sekerlik het ons absoluut niks met daai lande en mense uit te waai nie. Al wat oorbly van Frankryk is n paar vanne en lekker wyn. Ons deel darm nog half n taal met die Nederlanders. Nou hoekom praat ons dan nog so? En jy verwag Riaan moet binne etlike jare vergeet waar hy vandaan kom? Ons skree vir die bokke, of wat ook al span, omdat ons van hulle hou. Punt. Ek skree vir die Bulle maar ek bly in die Kaap, moet ek nou skielik n Stormer word? Ek skree dan al die jare vir die Bulle.

Geliefd ·

Verduidelik vir my? Hoe bly jy al jare in die VSA en skree nogsteeds vd Bokke?

Elaine ·

Daar staan sy beskryf Atlanta somers as dor en bedompig. Nie die klimaat is dor en bedompig nie.

Jozi ·

Sjoe ouens.. ontspan asseblief.
Is al hierdie kritiek en negatiwiteit werklik nodig?

KaterinaKat ·

Ek kan nie verstaan hoe mense wat geseend en bevoordeeld genoeg was om hier te kon ontsnap, kan terug verlang nie. Ek sou nooit vir n sekonde terug verlang het na hierdie helhool nie. Ek kan verstaan dat mense na geliefdes kan verlang, maar na hierdie Land..o gedoriewaar nee.

RP ·

Ek het al menige lande gereis, en ek kan jou sê met sekerheid dat ons een van die mooiste lande in die wêreld het. Min lande kan kompiteer met ons berge, strande, wynlande, riviere en damme. Die mense… nou dis waar die probleem lê.

VanAfrika ·

Aaaag tog, as jy hierdie land verlaat bly jou bloed Afrikaans. Hoekom moet jy verander net omdat jy in n ander land finansiele Vryheid en veiligheid gaan soek het vir jou kinders. En wat is fout daarmee om vir die Bokke te skreeu en jy is Afrikaans, bly in ander land en leer ander van ons kultuur sodat hulle kan sien ons is nie die moordenaars wat die wêreld uitmaak ons is nie. Regtig, los daardie mense uit wat die land verlaat het. My broer bly al 20 jaar in OZ en hulle skreeu vir die bokke en eet biltong en mieliepap en braai vleis en hulle kan nie gelukkiger wees nie. As julle hulle leefwyse teen ons sin sien, kan julle sien hoe gebuk ons onder stress gaan oor wat vir ons wag. Wees dankbaar vir daai wat dit uit die duiwel se kloue uit gemaak het.

aj ·

Lekker om van Riaan en Michelle te hoor daar in die US of A!

Groete!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.