Hoe lyk Hollywood: Jonas-broer word pa; Regis Philbin sterf

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Jonas-broer, Game of Thrones-ster, word ouers

Joe Jonas en sy vrou, Sophie Turner. (Foto: Facebook)

Joe Jonas en sy vrou, Sophie Turner, het vandeesweek ouers geword van ʼn babadogtertjie. Haar naam is Willa.

Turner (24), wat bekend is om haar rol as Sansa Stark in die bekroonde fantasiereeks Game of Thrones, het volgens berigte op Woensdag 22 Julie geboorte gegee aan haar en Jonas (30) se eerste kind.

Die paartjie is bekend daarvoor dat hulle uiters privaat is en hoewel Jonas en Turner gedurende haar swangerskap ʼn paar keer op straat afgeneem is, het hulle geen besonderhede oor die swangerskap of die geboorte bekendgemaak nie.

Woordvoerders vir die paartjie het egter baba Willa se geboorte bevestig.

Jonas en Turner het aanhangers verras toe hulle in Mei verlede jaar na die Billboard Music Awards-geleentheid in Las Vegas getroud is. Hulle het ʼn maand later ʼn tweede, meer tradisionele seremonie in Frankryk gehou.

Jonas se broer, Kevin en sy vrou, Danielle Jonas, het twee dogters, Alena en Valentina.

Regis Philbin sterf

Regis Philbin. (Foto: IMDb)

Die legendariese televisiepersoonlikheid Regis Philbin is verlede Vrydag in die ouderdom van 88 dood. Philbin se familie het vandeesweek eers in ʼn verklaring bevestig hy is aan ʼn hartkwaal dood

“Ons is diep hartseer om bekend te maak dat ons geliefde Regis Philbin aan natuurlike oorsake dood is, skaars ʼn maand voor sy 89ste verjaarsdag,” het die familie gesê.

“Ons sal altyd dankbaar wees vir die tyd wat ons saam met hom kon deurbring, vir sy warmte, sy legendariese sin vir humor en sy vermoë om elke dag iets te verander om oor te praat. Ons bedank sy aanhangers vir hulle ongelooflike ondersteuning deur sy loopbaan en vra vir privaatheid om die verlies te verwerk.”

Philbin was ʼn bekende televisie- en speletjiesprogramaanbieder en sy loopbaan het oor meer as 60 jaar gestrek.

Kelly Ripa, wat saam met Philbin die program Live aangebied het, het gesê sy en haar familie was almal saam toe hulle die nuus van sy afsterwe gekry het.

“Soos mense ouer word, weet jy dat sekere dinge onafwendbaar is en om te sterf is een van daardie dinge. Maar Regis is een van die mense wat ons almal geglo het sou op ʼn manier ʼn plan beraam om die onafwendbare te vermy. Natuurlik was dit was egter nie moontlik nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.