‘Nuwe dorp, nuwe man, nuwe uitdagings’ vir Ansu

Ansu van der Sluys het pas haar eie onderneming, Hello Huys, geopen. (Foto: Picture me & u/Ansu van der Sluys/Instagram)

ʼn Jaar gelede het Ansu van der Sluys ʼn ander huis, ʼn ander werk en ʼn ander van gehad. Vandag is sy ʼn sakevrou wat ʼn maand gelede die deure van haar eie binnenshuise versiering- onderneming, Hello Huys, geopen het.

Ansu (31) is in November 2022 met haar man, Wilhelm van der Sluys, getroud, en het kort daarna die Jakarandastad vir die Paarl verruil. Dié jaar was ʼn jaar van ontwikkeling en groei vir haar. Tog, erken sy, kan sy nie wag om te sien wat 2024 vir haar inhou nie.

“Dit is amper asof 2023 ʼn jaar van skaafwerk was. Ek het die saadjie geplant en die boom sal eers in 2024 behoorlik begin groei,” het Ansu aan Maroela Media vertel.

“Hello Huys was nie werklik ʼn droom nie, dit was die volgende stap wat moes gebeur het in my lewe. Ek het baie gebid oor wat om te doen,ek het geweet dat ek ʼn skuif wou maak in my lewe.

“Kort nadat ons getroud is, het ek besef dat ek ʼn sekere soort ma en vrou wil wees, en dat ek dit nie sou kon wees as ek op die lewenspad waarop ek was gebly het nie. Ek het net nie langdurigheid en volhoubaarheid gesien nie.”

Ansu erken dat sy nog altyd ʼn kunssinnige mens was, en dat sy as kind reeds die mooi in elke vertrek raakgesien het.

“Ek was die kind wat my kamer gedurig rondgeskuif het. Ek wou altyd iets nuuts of moois met ʼn ruimte doen,” sê sy.

“Dit was ook een van die goed waarna ek uitgesien het om saam met Wilhelm in te trek – ek kon ons ruimte mooi maak.”

Ansu en Wilhelm van der Sluys op hul troudag. (Foto: Picture me & u/Ansu van der Sluys/Instagram)

Ansu was tot September 2022 nog in die kykNET-sepie Getroud met rugby te sien, toe dié dagdrama se laaste episode uitgesaai is. Sy het ook storielyne vir onder meer Getroud met rugby en Diepe waters ontwikkel, iets wat sy vroeg in 2023 vaarwel geroep het.

Sy erken dat sy nie haar loopbaan in die vermaakbedryf geheel en al vaarwel geroep het nie, en dat haar nuwe onderneming bloot nog ʼn uitlaatklep vir haar kreatiwiteit is.

“Ek het in Februarie besluit om te bedank as storielynontwikkelaar, hoewel ek steeds aanhou skryf het. Daar was nog rekeninge om te betaal!

“Ek werk sedertdien aan hierdie idee vir my eie binnenshuise versiering- onderneming. Ek het deur die hele proses gegaan, dit het ses maande gevat om die besigheid op sy bene te bring.”

Daarna het Ansu ʼn kort kursus aangepak om haar idees te begin ontwikkel tot ʼn volhoubare onderneming. Dit was vir haar belangrik om nie blindelings in dié nuwe avontuur in te stap nie.

ʼn Huis en ʼn hond

Ansu erken dat haar en Wilhelm se huweliksjaar gevul was met bittersoet oomblikke van aanpassing.

“Ons was albei lank enkellopend, en het ook elkeen ons eie roetine en manier van dinge doen gehad. Dit het ʼn tydjie gevat om by mekaar aan te pas, maar ons geniet dit vreeslik.”

Ansu en Ezekiël. (Foto: Ansu van der Sluys/Instagram)

Dié egpaar het onlangs ʼn hondjie, Ezekiël, aangeneem.

“Ek gaan in 2024 fokus op my hond, my huis en my lekker, lekker, lekker man,” skerts sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.