Kyk uit vir dié plaaslike rolprente in 2020

Afrikaanse rolprentliefhebbers kan uitsien na ʼn verskeidenheid fliekvermaak op die silwerskerm in 2020.

Rolprentweergawes van Dalene Matthee se Toorbos en Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena word in die vooruitsig gestel, terwyl die berugte Griekwastad-moorde ook verfilm is.

Hier volg meer inligting oor dié flieks:

Vergeet my nie

Vergeet my nie is ʼn romantiese komedie wat op 14 Februarie uitgereik word. Dit vertel die verhaal van ʼn student, vertolk deur Marguerite van Eeden, wat na die aaklige verbrokkeling van haar verhouding haar tasse pak en Potchefstroom vir die opwinding en liggies van Londen verruil. Daar raak sy verlief op ʼn aantreklike, kaalvoet Namibiër, vertolk deur Sean-Marco Vorster, maar sy laat toe dat haar vrese die oorhand kry.

As hy jare later aan haar deur klop, met beloftes van horisonne en ʼn lewe saam, staan sy voor ʼn keuse: die veilige opsie van aanloklike stadsligte, of sy kan alles waag vir sonsondergange, sandduine en kaalvoetliefde.

Griekwastad

Dié prent vertel ʼn verhaal van die soeke na die waarheid rondom die moorde op Deon, Christel en Marthelle Steenkamp wat in 2012 koudbloedig vermoor is op die familieplaas, Naauwhoek.

Kyk hier na die lokprent.

Poppie Nongena

Die rolprent is geskoei op die bekroonde roman deur Elsa Joubert. Clementine Mosimane, Anna-Mart van der Merwe, Nomsa Nene, Chris Gxalaba en Rolanda Marais is deel van die rolverdeling.

Kyk hier na die lokprent.

Toorbos

In dié verhaal word Karoliena se storie oor hoe sy vasgevang is tussen haar liefde vir die bos en die man met wie sy getroud is, vertel. Toorbos is op Dalene Matthee se gelyknamige roman geskoei.

Die draaiboekverwerking en regie is deur René van Rooyen en die fliek is deur The Film Factory vervaardig.

Moffie

Moffie is deur Oliver Hermanus gemaak en is geïnspireer deur sy persoonlike ervaring tydens militêre diensplig in die Suid-Afrikaanse Weermag in die 1980’s.

Dié rolprent het wêreldwyd reeds opslae gemaak en word op 13 Maart in Suid-Afrika uitgereik.

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.