Lankverwagte ‘Vergeet my nie’-lokprent uitgereik

'Vergeet my nie' begin op 14 Februarie in fliekteaters landswyd draai.

‘Vergeet my nie’ begin op 14 Februarie in fliekteaters landswyd draai.

Afrikaanse fliekvlooie kan solank hul rolprenttande slyp vir Vergeet my nie, ʼn nuwe fliek wat op 14 Februarie in fliekteaters landswyd uitgereik word. Die amptelike lokprent vir die fliek is Vrydag bekendgestel.

Die fliek, wat vervaardig is deur The Film Factory in samewerking met Huisgenoot en kykNET Films, vertel die liefdesverhaal van Mardaleen en Hugo Derks, twee mense wie se romanse ʼn stormagtige draai maak in Potchefstroom, Namibië en Londen.

Mardaleen, vertolk deur Marguerite van Eeden, is ʼn gekultiveerde student wat vasgekeer voel in Potchefstroom. Sy smag na die liggies en die kultuur van Londen. Ná die aaklige verbrokkeling van haar verhouding pak sy haar tasse en vertrek na haar droomstad saam met haar beste vriendin, Lara, vertolk deur Kenley Swart.

Hulle woon in Huis Konettie, saam met vyf ander Suid-Afrikaners wat in Londen werk. ʼn Onverwagse romanse ontstaan tussen Mardaleen en haar Namibies-gebore huismaat, Hugo, vertolk deur Sean-Marco Vorster. Dit voel egter te goed om waar te wees en die oomblik wanneer dinge te ernstig raak en nie heeltemal verloop soos sy beplan nie, laat sy haar onsekerhede en vrese oorspoel in haar verhouding. Sy hardloop weg en gaan huis toe.

Mardaleen en Hugo se romanse vlam weer op wanneer hulle twee jaar later mekaar teëkom, gevolg deur ʼn uitnodiging van Hugo aan Mardaleen om vir hom in Namibië te gaan kuier. Haar naweek in Namibië ontaard in ʼn nagmerrie. Afgesien hiervan vra Hugo haar om te bly en om ʼn nuwe lewe saam te bou, maar sy het ander planne en is hardkoppig.

Mardaleen wil kultuur, die stad en liggies hê – die plaas is nie ʼn plek vir ʼn meisie soos sy nie.

Van Eeden is tans in die kykNET-reeks Fynskrif te sien terwyl Vorster in die gewilde kykNET-reeks Alles Malan te sien was as Nico.

Die fliek is, net soos Vir die voëls, geskoei op ʼn ware liefdesverhaal. Met regie deur André Velts en Marius De Nysschen as kinematograaf, sluit die rolverdeling onder andere ook in Amalia Uys, Pietie Beyers, Elani Dekker, Rick Strauss, Leché Joubert, Fiona Ramsey en Arno Greeff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.