Leon van Nierop se resensie: A Perfect Pairing

A Perfect Pairing ***
Met Adam Demos en Victoria Justice
Regisseur: Stuart McDonald

Nou wat van óns? vra vroue seker wanneer die manne vol adrenalien gepomp van die Top Gun: Maverick-tuimeltoertjies af terugkom. Stel jou bloot aan die onwerklik-idilliese romanse op ʼn Australiese skaap- en wynplaas van twee van die mooiste mense wat jy buite ʼn modetydskrif sal ontmoet.

ʼn Koel sakevrou vertrek Australië toe om tussen wyn en skape te poog om ʼn kliënt te werf. Sy verwag egter nie dat hy dikwels van sy hemp ontslae gaan raak vir ooglekkergoed en lyf gaan wys nie, nog minder dat hy sjarmant, mooi én intelligent kan wees. En dan kan hy nog boer ook!

ʼn Mens glo nie ʼn woord van hierdie lighartige romantiese komedie nie, behalwe dat jy weet die twee gaan tog aan die einde bymekaarkom (of gaan hulle..?) Hierdie huppelspring romantiese kaperjolle sal veral in vroue se smaak val. En jy kan dit in die gemak van jou TV-kamer kyk, want dit kan gestroom word op Netflix. So ʼn lekker soet suigstokkie van ʼn fliek.

Op Netflix te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.