Gedagte vir die dag: Blydskap te midde van lyding

Argieffoto (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

“Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.” (1 Petrus 4:13)

Oordenking
Kan dit waar wees?

Die verspreid wonende gelowiges in die Romeinse Ryk, wat vervolg is deur Jode (wat Christus verwerp het) en heidene, ontvang ʼn brief van die apostel Petrus met die boodskap: Wees bly oor julle lyding!

Blydskap te midde van lyding?

Dit klink teenstrydig. Ons word dan daagliks gevra om vir die vervolgde kerk te bid. Sovele wat ly as gevolg van hulle Christelike geloof. En wat bid ons hier uit die vrye Namibië en Suid-Afrika? Here, spaar ons broers en susters lyding!

Dit klink of ons die wil van God vir sy kerk nie verstaan nie.

Lees ons die getuienis van Christene wat vervolg word, kom ons agter dat hulle lyding beter verstaan. Hulle beskou dit as ʼn voorreg en ʼn eer om deel te hê aan die lyding van Christus.

So het Jesus tog sy volgelinge geleer: Julle sal gehaat word omdat hulle My haat. Julle sal vervolg word net soos ek doodgemaak is (Johannes 15:18). Wees daarom nie verbaas wanneer jy ly as Christen nie!

Kom ons neem ter harte wat die Gees ons in hierdie brief leer.

Wees eerder bly namate julle deel het aan die lyding van Christus. Ly eerder terwyl julle goed doen in gehoorsaamheid aan die Here, as wanneer julle kwaad doen. Wie met Christus ly, het met die sonde afgereken. Vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God (1 Petrus 4:1 e.v.). Om deel te hê aan Christus se lyding hou in dat jy voluit vir Hom wil leef, dat jy meer gehoorsaam is aan God as aan mense, dat jy jou kruis opneem en Hom volg, dat jy bereid is om alles vir die evangelie op te offer.

Daarmee saam gaan die vaste sekerheid oor die dag van uitbundige jubeling wat kom. Lyding skeur ons nie weg van ons Here nie. Inteendeel, dit bind ons hegter aan Hom. Dit versterk ons geloof en hoop en liefde. Daarom sien ons uit na Jesus se wederkoms. Dan sal Hy die heerlikheid van die nuwe Jerusalem en die volmaakte heiligheid van sy kinders bekend maak.

Lyding nóú beteken geensins dat God jou verlaat het nie. Sy beloftes van die heerlikheid staan vas. Wees daarom eerder bly as jy ter wille van Christus moet ly.

Gebed
Ons Vader in die hemel, verander ons gesindheid oor lyding van Christus, sodat daar blydskap in ons leef om aan sy ewige seëninge te deel. Amen.

Pitkos
“My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.” (Jakobus 1:2-3)

  • Hierdie oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die “Deo Gloria Kuberbrief” verskyn. Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.