BMW stel outo-ratkas vir motorfietse bekend

Toe Honda sy outomatiese Dual Clutch Transmission (DCT) op sekere van sy motorfietsmodelle bekend gestel het, was daar ’n geween en ’n gekners van tande onder die motorfietsgemeenskap. Almal was dit eens dat dit net ’n foefie is wat sal oorwaai. Honda het egter voet by stuk gehou en die DCT is nou ’n baie populêre opsie, veral in Europa. Daar verkies klante die DCT-opsie bo die gewone ratkas. Dit het vir BMW aan die dink gesit, en hulle het self nou ook ’n soortgelyke stelsel ontwikkel vir die nuwe BMW R 1300 GS. Hulle noem dit Automated Shift Assistant, oftewel ASA.

BMW-ryers sal bekend wees met BMW se snelskakeling wat bekend staan as Shift Assistant Pro. Dit beteken dat ratskakelings gedoen kan word sonder om die koppelaar te gebruik. Automated Shift Assistant klink amper na ’n verdere ontwikkeling van hierdie stelsel, en dit is ook presies wat dit is.

Waar Honda se stelsel wegdoen met die koppelaar- sowel as die rathefboom, het BMW die rathefboom behou, en jy kan dus op dieselfde manier ratte verwissel asof jy snelskakeling het. As jy self wil ratte verwissel op ’n Honda, gebruik jy skakelaars op die handvatsels. Persoonlik hou ek meer van BMW se oplossing. Dit behoort meer intuïtief te wees.

Die groot aanpassing gaan egter die gebrek aan ’n koppelaarhefboom wees. ASA beskik oor ’n elektromeganiese koppelaar wat wegtrek en stilhou hanteer en behoort nuwer ryers baie te help met laespoedmaneuvers. Alles word elektronies beheer en ratskakeling word aangepas na gelang van die enjin se toere en lading.

Vir ryers wat tog beheer wil hê van wanneer hulle ratte wil wissel, kan die stelsel in “M”-modus gesit word. Dit is veral handig in swaar verkeer, waar jy langer in een rat wil bly. Outomatiese ratkaste probeer gewoonlik om so vinnig moontlik in die hoogste rat te wees, en as jy dan skielik wil versnel, is die ratkas gewoonlik in die verkeerde rat. Selfs in hierdie modus sal die elektronika inmeng as die fiets begin stadiger ry, of die toere buite die aanvaarde perke val of styg. As jy byvoorbeeld by ’n verkeerslig stop, sal die fiets seker maak jy is weer in eerste rat vir die wegtrek.

Dit is egter in “D”-modus waar ASA tot sy volle reg kom. Ratskakeling is sekuur met minimale invloed op traksie. Jy en jou agteroppie se valhelms sal hopelik nie meer teen mekaar stamp tydens ratskakelings nie. Tesame met BMW se ander tegnologieë soos spoedbeheer en voorste radar, word jou insette al hoe minder. Jy kan net terugsit en die rit geniet.

Volgens BMW behoort hierdie stelsel vanaf die vierde kwartaal beskikbaar te wees op die R 1300 GS-model en dit blyk uit die persverklaring dat die stelsel onwikkel is rondom die bokserenjin. Dit is ’n eenvoudiger stelsel as Honda s’n en gaan hopelik nie ’n groot prysverskil tot gevolg hê nie. Dit beteken ook dat hierdie stelsel dalk later op die RT-model beskikbaar gaan wees. Ons sal maar moet wag en sien hoe werk hierdie stelsel in praktyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Die tegnologie is verstommend. Ek dink dit is ‘n goeie idee maar glo nie dat daar ‘n groot aanvraag sal wees nie. Miskien by die senior ouens of manne met net een been. Die pret om van robot tot robot ‘n ander ou te “dise” is daarmee heen. Nie dat dit BM ouens pla nie. BM ouens “dice” nie sommer nie (of altans nie in my dae nie. fietse was te stadig) As jy dalk moeg is kan mammie maar die stokke oorvat en pappie agter sit en navigeer.

Jedi Knight ·

Ek het n “quick shift” op my 1200GS (dit was nie opsioneel nie). Dis nogal lekker om soms simpel te wees en van lig tot lig onder die karre uit te jaag. Maar as ek kon kies ,sou ek dit nie vat nie. Dit maak die fiets net onnodig duur. Selfde met spoedbeheer (was ook standaard op my 1200). Soms sit ek dit op die langpad aan en ry dan loshande en stuur die fiets met my bene. Tot eendag….
Ek sal egter verkies as sulke foefies opsioneel is.

Jubba ·

Ek is te oud vir sulke foefies, is om ten volle betrokke te wees met jou motorfiets in alle fasette en jou onmiddelike omgewing terwyl jy ry nie wat motorfiets ry n ervaring maak nie.

Kortbroek en plakkies ·

Ek is maar outyds ek hou van die adrenalien om self my ratte te verander op my fiets, dit hou my paraatek het destyds ‘n quad gehad met die ratte wat verander sonder ‘n koppelaar maar het dit glad nie geniet nie. Miskien is hierdie weergawe beter en moet die nuutjie groei op my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.