Mandi du Plooy-Baard gesels oor talentvolle spruite en haar rol as ‘uitdagende booswig’

Mandi du Plooy-Baard. (Foto: Mandi du Plooy-Baard/Facebook/Roxanne Davison Photography)

Mandi du Plooy-Baard reken om ʼn rol in sepie te kan vertolk, bly vir haar die ideale soort werk. Dit is iets wat sy sommer vinnig erken.

“Ek hou van veiligheid en die standvastigheid wat dit bied,” het dié 40-jarige aktrise aan Maroela Media vertel.

Toe die gewilde kykNET-sepie Getroud met rugby in September 2022 tot ʼn einde gekom het, moes Mandi nie net van ʼn karakter vir wie sy baie lief was, afskeid neem nie, maar ook van ʼn groep mense wat op die einde van die dag soos familie vir haar geword het.

“Dit was vir my baie moeilik. Ek was mal oor Getroud met rugby, my karakter en die mense saam met wie ek gewerk het. Dit was naby aan my huis … ag, dit was eintlik vir my baie lekker.

“Dit was ʼn groot aanpassing. Dit was hartverskeurend om te weet dat so baie mense werkloos gelaat is.”

Sy erken dat sy nie dit oor haar hart kon kry om die laaste paar episodes van Getroud met rugby te kyk nie, en het veral nie ingeskakel om haar karakter, Lienkie, se begrafnis te sien nie.

“Ek is iemand wat wíl werk. Ek geniet die vryskutwerk, maar dit maak my bietjie angstig. As ek eerlik moet wees, hou ek van die gemaksone van ʼn sepie.”

(Foto: Mandi du Plooy-Baard/Facebook/Roxanne Davison Photography)

Sy werk al vir die afgelope jaar as vryskutaktrise, en het die meeste van dié tyd aan haar twee kinders, die 9-jarige Jeandré en die 7-jarige Sumé, gewy.

“My seun is in graad 4 hierdie jaar, so ek het hierdie jaar weer vir die eerste keer eksamen geskryf,” vertel sy skertsend.

Mandi se twee spruite het die afgelope ruk ook onderskeidelik die waters van die vermaakbedryf getoets, hoewel Mandi erken dat sy elke projek wat hulle aanpak streng beheer.

Dié twee was elkeen al deel van advertensies en rolprente, met Sumé wat haar lyf aktrise vir een van die Afrikaans is Groot-musiekkonsert se tonele ook gehou het.

Mandi se spruite, Sumé en Juandré, toets ook die waters van die vermaakbedryf. (Foto: Mandi du Plooy-Baard/Facebook)

“Ek vra hulle altyd eers of hulle deel van iets wil wees, maar ek het ook sekere grense. Ek sê nie altyd ja nie, en uiteraard moet dit ook by skoolwerk inpas, aangesien dit altyd eerste kom.”

Mandi is eersdaags in die kykNET Storiefilm, Beïnvloedbaar, te siene. In dié riller, vertolk Mandi die rol van Simone,  ʼn booswig uit die boonste rakke. Alhoewel sy glad nie met die karakter vereenselwig nie, was dit vir haar ʼn heerlike ervaring om ʼn donkerder karakter te vertolk.

“Ek speel gewoonlik die oulike karakter, ʼn veilige karakter. Hierdie was vir my heeltemal iets anders en ʼn wonderlike uitdaging.

“Ek lyk glad nie mooi in die fliek nie, maar ek lyk realisties. Ek hou daarvan, want dit is so eg, en dit is wat die fliek vir my aanloklik gemaak het.”

Beïnvloedbaar handel oor vyf sosialemediabeïnvloeders (influencers) wat vir ’n werklikheidsreeks onder een dak bymekaar kom om te sien wie met R2 miljoen se prysgeld kan wegstap. Die rolprent neem egter ’n donker draai wanneer die kykergetalle van die reeks afneem, en die vervaardigers, Lian Kuiper (vertolk deur Armand Aucamp) en Simone Kruger (vertolk deur Mandi) na nuwe, wreedaardige, maniere gryp om die kykergetalle te herstel.

“Dit is ʼn unieke rolprent, maar dit is so van toepassing op ons eie lewens.

“Ons almal het die vermoë om ʼn influencer te wees, en ons almal het die gereedskap daarvoor omdat ons op sosiale media is. Hierdie fliek wys die ander kant daarvan.”

  • Beïnvloedbaar word om 20:00 op Saterdag 8 Julie op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai en sal daarna ook op Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.