Die lank verwagte lokprent van die biografiese fliek oor die rockgroep Queen en sy legendariese voorsanger Freddie Mercury, is Dinsdag uitgereik.
Bohemian Rhapsody, met die Amerikaanse akteur Rami Malek van Mr Robot-faam in die rol van Mercury, sal teen die einde van die jaar wêreldwyd op die silwerdoek te sien wees. Mercury is in 1991 dood.
Malek het dié gesogte rol losgeslaan nadat die vervaardigers, wat reeds sedert 2010 aan die fliek werk, die akteur Sacha Baron Cohen, beter bekend as die lawwe karakters Borat en Ali G, uitgeskop het weens verskille met die oorblywende Queen-lede oor die artistieke karakter van die fliek.
The Guardian berig dat Brian May, die voormalige kitaarspeler van die groep, glo vir Baron Cohen ʼn “p*****l” genoem het.
Die projek het ook amper skipbreuk gely toe die regisseur, Bryan Singer, afgedank is nadat hy glo te veel tyd af geneem het as gevolg van gesondheidsprobleme. Hy is deur die Eddie the Eagle-regisseur, Dexter Fletcher, vervang.
Die amptelike sinopsis van die fliek beskryf Bohemian Rhapsody as ʼn voetstamp-viering van Queen se musiek en die talent van Mercury, die man wat stereotipes aangevat het, konvensies verbreek het en een van die geliefdste kunstenaars op die planeet geword het.
Die fliek volg die groep se meteoriese opgang, die een treffer na die ander, asook die amperse einde van die groep namate Mercury se leefstyl buite beheer geraak het, tot by die groep se triomfantelike hereniging op die vooraand van die Live Aid-konsert in 1985, waar Mercury, terwyl hy in daardie stadium aan vigs gely het, die groep gelei het in een van die beste vertonings in die geskiedenis van rockmusiek.
Volgens Rolling Stone word Bohemian Rhapsody op 2 November in die VSA uitgereik. Lucy Boynton, Gwilym Lee (Bryan May), Ben Hardy (Roger Taylor), Joseph Mazzello (John Deacon), Aiden Gillen, Tom Hollander en Mike Meyers is almal in die fliek te sien.
Baie beslis sien ek uit hierna!
Kan nie wag!!!!!!!!!!!
Icons!!! gaan dit nie mis nie.
Hierdie gaan die langste 6 maande nog wees tot November!
Gladnie ‘n vleiende foto nie . . . .
Kan nie wag nie!!!
Hierdie groep het die vreemdste leefstyl gehad, maar sing en musiek kon hulle maak. Tot vandag toe word hulle musiek gespeel, oud en jonk geniet dit. In die jare 1985 was daar ook ‘n fliek wat net oor Queen se musiek gegaan het, treffer na treffer, by die inry gekyk.
Oe nee was ‘n grillerige man in my oe gewees. Tot sy musiek het my afgesit. Carl stem saam met jou.