Resensie: Hoe meer beswaar, hoe meer ‘The Crown’ wil ons kyk

THE CROWN
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Dominic West en Elizabeth Debicki
Skepper: Peter Morgan
(Netflix)

Erken maar. The Crown is verslawend en hoe meer die koninklikes daarteen beswaar maak, hoe meer mense kyk daarna.

Dit is tans Netflix se gewildste reeks en die vyfde seisoen brei verder uit op die wêreld se mees luisterryke en luukse ware sepie: wat agter die skerms van die Buckingham-paleis gebeur.

Natuurlik moet ʼn mens baie tonele met ʼn knippie sout neem, maar die egskeiding van prins Charles, nou koning Charles III, en prinses Diana, asook die derde skerp punt van daardie dodelike driehoek, koningin Elizabeth II, hou ʼn mens vasgenael.

Die prag en praal van die paleis skitter soos ʼn ongepoetste diamant, die karakters is groter as die lewe self, en die wyse waarop Mohamed Al Fayed en sy seun Dodi kanse in die skeure in die drama raakgesien en dit uitgebuit het, word in kleur en geur vertel.

Elizabeth Debicki vertolk die rol van prinses Diana in die vyfde seisoen van ‘The Crown’. (Foto: Facebook/The Crown)

Al is jy nie ʼn aanhanger van die koninklikes nie, en al glo jy min van wat uitgebeeld word, die dramatiese wyse waarop hierdie drama ontvou, veral aan die hand van die ervare skrywer Peter Morgan, laat ʼn mens oorbluf van vermaak daarna staar. Ook om te sien hoe knap akteurs oortuigend gestalte aan werklike mense soos Diana, die koningin en die eerste minister, John Major, gee.

Oorkom jou vooroordele en verlustig jou in die doen en late van Engeland se rykste en mees vooraanstaande familie, die Windsors.

The Crown, veral reeks 5, is slegs op Netflix.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.