Resensie: Outoppies wys hul staal in rateltaai reeks

THE OLD MAN
⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Jeff Bridges en John Lithgow
Skeppers: Robert Levine en Jonathan E Steinberg
(Disney+)

Dikwels kla mense dat daar deesdae ʼn oormaat blitsige superheldreekse vir jonges is, maar niks wat ook ʼn meer volwasse smaak bevredig nie. Dit moet ʼn stukkie vermaak wees waar die aksie meer bedaard en verteerbaar is.

The Old Man val in daardie kategorie. Dit gaan oor ʼn middeljarige maar rateltaai oud-CIA-agent, gespeel deur Jeff Bridges. Daar word dikwels bloot na hom as the old man verwys. Iemand met soveel plooie, dit lyk na ʼn boek se bladsye.

Soos dikwels in hierdie soort reekse gebeur, het hy moeg geword van te veel geweld en gevaar, en hy wil as ʼn legende en oudvegter net sy Crocs uitskop en saam sy twee honde rus. Maar, soos die resep vereis, word hy uit sy pensioenslaap gewek deur ʼn oudkollega en hy besef sy lewe is in gevaar.

Die reeks is geskoei op Thomas Perry se roman waarin die ou man se verlede soos ʼn hond op sy spoor snuffel en hy besef: Een vyand destyds is een te veel.

John Lithgow in ‘The Old Man’. (Foto: IMDb)

Die reeks beweeg gemaklik met intense oomblikke. ʼn Pluspunt is Bridges se heerlik rustige deur-die-baard-brom‑spel. Moet egter nie hierdie gedugte man vlak kyk nie. Hy is wawyd wakker en sy vegtersinstink skop sy teruggetrokke kalmte dwarsdeur die pale.

Dan ontmoet hy weer ʼn ou vriend uit die diepe moeras van sy verlede. Die man se gesig word gekenmerk deur dun, vasberade en vasgeklemde lippe. Hy word gespeel deur John Lithgow, en die ou man moet uithaal en wys of lang bome toe gaan.

Hierdie is die soort reeks waarna jy nie noodwendig vraatkyk nie, maar tussendeur ander reekse by kuier soos by ʼn goeie pêl, want dit vereis nie dat al die ligte op jou boonste verdieping aangeskakel moet wees nie. Daar kan maar konsentrasie-beurtkrag intree. Middelmatige en oppervlakkige vermaaklik.

The Old Man is slegs op Disney+.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.