Resensie: Spioenasiereeks sal jou nie laat regop sit

THE RECRUIT   
⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Noah Cintineo en Amanda Ip
Skepper: Alexi Hawley
(Netflix)

“Nou waar het ek die mannetjie al vantevore gesien?” vra jy seker wanneer jy na Noah Cintineo kyk in The Recruit.

Hy is eintlik ʼn doodgewone laaitie, skynbaar Italiaans van afkoms. Een van die miljoene akteurs wat hoop om deur Hollywood raakgesien te word. Toe kry hy die hoofrol in die fliek To All The Boys I’ve Loved Before op Netflix, en daarna in ʼn ander gedaante in Black Adam.

Dié mannetjie het sodanig opgang gemaak, dat hy nou sy eie spioenasiereeks gekry het. The Recruit se storie is ʼn bietjie anders as die gemiddelde aksiereekse op stromingsplatforms, maar nie sodanig dat jy hoef regop te sit nie.

Hy gee gestalte aan ʼn prokureur vir die CIA in die VSA wanneer hy op ʼn afdreigbrief van ʼn voormalige werknemer afkom. Sy dreig om die CIA se geheime uit te lap tensy hulle alle aanklagte vir ʼn oortreding teen haar terugtrek.

Noah Cintineo in ‘The Recruit’. (Foto: IMDb)

Natuurlik word Owen (Cintineo se karakter) gestuur om haar te oortuig om haar belaglike aansprake te laat vaar. ʼn Mens is oorbewus van al die storieslenters wat gebruik word om jou aandag te hou, soos jaagtogte, motors wat buite beheer raak, vingernaels wat uitgetrek word en ʼn nonchalante held wat kwinkslae vinniger uitdraai as jou ma beskuit uit die oond. Maar niks kry dié jafel onder nie.

Noah Cintineo maak The Recruit eintlik kykbaar as jy met jou afstandbeheerder oor Netflix se programme dwaal en na iets nuuts soek om te kyk.

The Recruit stroom nou op Netflix.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.