Wen: Fliek plaas soeklig op waterbesoedeling

Bill Camp (links) as “Wilbur Tennant” en Mark Ruffalo (regs) as “Robert Bilott” in die rolprent Dark Waters. (Foto: Mary Cybulski/Focus Features.)

Dark Waters is ʼn Amerikaanse rolprent oor ʼn prokureur wat daarin volhard om ʼn donker geheim te ontbloot oor die groeiende getal onverklaarbare sterftes wat met een van die grootste maatskappye in die wêreld verbind kan word.

In sy poging om die waarheid bekend te maak word sy toekoms, sy gesin en sy eie lewe in gevaar gestel.

Todd Hayns is die regisseur van die Amerikaanse drama/riller wat gebaseer is op The New York Times-tydskrifartikel getiteld “The laywer who became DuPont’s worst nightmare” uit die pen van Nathaniel Rich.

Mark Ruffalo, wat al benoem is vir ʼn Oscar-toekenning, vertolk die rol van Rob Bilott. Bilott is ʼn prokureur wat maatskappye in omgewingsake verdedig en het pas ʼn vennoot by ʼn gesogte firma in Cincinatti geword na aanleiding van die uitnemende werk wat hy hieroor doen.

Bill Pullman (links) vertolk as “Harry Dietzler” van DuPont’s in die rolprent Dark Waters. (Foto: Mary Cybulski/Focus Features.)

Dié prokureur se lewe word egter ingrypend verander ná twee boere van Wes-Virginië hom nader met nuus dat hulle glo die plaaslike DuPont-aanleg stort giftige afval wat hul landerye vernietig en hul vee laat vrek.

In die soeke na die waarheid begin Bilott met die hulp van Tom Terp (vertolk deur die Oscar-wenner Tim Robbins), sy toesighoudende vennoot in die firma, ʼn epiese regstryd om geregtigheid wat 15 jaar lank sal duur.

Die stryd toets nie net Bilott se verhouding met sy vrou, Sarah (vertolk deur die Oscar-wenner Anne Hathaway), nie, maar ook sy reputasie, loopbaan en eie gesondheid.

Dark Waters word tans vertoon by uitgesoekte teaters in Suid-Afrika. Hierdie rolprent help om opnuut die soeklig te plaas op plaaslike en internasionale omgewingsake, en benadruk die belangrikheid van waterkwessies in ʼn land waar daar dikwels vrae gevra word oor watergehalte.

Hier is ʼn lokprent van die rolprent Dark Waters:

Wenners:

Baie geluk aan Charlene Ackerman, Isabel Meyer, Willem Frost, Michelle Louw en Tony Crofford wat elkeen ‘n stel dubbelkaartjies gewen het om na die rolprent Dark Waters te gaan kyk. Hoop julle geniet dit – lekker Maroela!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.