Adam Tas gee lewe aan nuwe Voortrekkerlied

Adam Tas. (Foto: Facebook)

“Ek is vas, stewig vas, op die Rots waarop ek hoop, in my God, en in my woord. Ons bly saam, elke tree, in die skadu’s van die berg, ons storie word steeds uitgekerf. En as ons trek, trek ons saam, Voortrekkers by die naam!”

Só lui die liriek van die splinternuwe liedjie, “Die spore wat ons los”, wat deur Johan Vorster en Jacomien de Villiers geskryf is ter viering van die Voortrekkers se 90ste bestaansjaar. Die liedjie word gesing deur Adam Tas.

Vorster het al meer as 70 no. 1-treffers vir ’n verskeidenheid van kunstenaars geskryf en getoonset. Liedjies soos “De La Rey”, “Afrikanerhart” en “Die Gelofte” deur Adam Tas, Chris Chameleon, Appel, Ghapi en Juan Boucher, het ook uit sy pen gevloei.

Volgens Tas is dit ’n groot voorreg om “Die spore wat ons los” te sing. “Ek is ’n groot voorstander daarvan om jou kinders te leer van die geskiedenis. Jy moet weet waar jy vandaan kom om te weet waarheen jy op pad is.”

Hy vertel hy was self as kind deel van die Voortrekkers. “Daarom is die voorreg om vandag oor dié jeugorganisasie se 90ste bestaansjaar te sing, nog soveel groter vir my. Die Voortrekkers is in my gegrond,” sê Adam.

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, sê die Voortrekkerspore is in die kontoere van die Drakensberg gekerf – eers in 1837 deur die eerste Voortrekkers en daarna in 1968 en 2016 deur hedendaagse Voortrekkers.

“Die lied is toekomsgerig, want ons storie word steeds in Afrika uitgekerf en die toekoms wink vir ons. Die lied bevestig die Voortrekkers se geloofsgrondslag, maar ook die Voortrekkerkarakter soos integriteit (’n Voortrekker se woord is sy eer), dade van durf en diensbaarheid. Dit is die spore wat ons wil los. Die lied roep Voortrekkers op om steeds die Voortrekkerfakkel veilig na môre te dra,” sê Langner.

’n Musiekvideo vir die liedjie, wat deur Dapper Media vervaardig en in die Voortrekkermonument geskiet is, word binnekort bekendgestel.

“Met hierdie lied bevestig die Voortrekkers nie net die ononderbroke rol wat dié jeugorganisasie vandag nog speel nie, maar soek ook die verband met die verlede op deur erkenning te gee aan die spore van gister.”

Luister op dié platforms na “Die spore wat ons los”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.