Eerste Afrikaanse snit in ʼn dekade vir Belgiese sanger

Stefan Dixon. (Foto: Verskaf)

Dit is sy musiekstyl om aaklige onderwerpe meer toeganklik met ʼn gelukkige ritme te maak, sê die Suid-Afrikaanse musikant, Stefan Dixon, wat homself al bykans ʼn dekade in België bevind.

Hy woon die afgelope nege jaar in dié Europese land saam met sy gesin, maar het nog steeds ʼn woonstel in Kaapstad en familie en vriende regoor Suid-Afrika.

Stefan se jongste enkelsnit, “Vanaand gaan ons terug”, is juis geskryf tydens die Covid-pandemie toe sy langbeplande reis na Suid-Afrika van België vir twee jaar uitgestel moes word. Die verlange na sy mense in Suid-Afrika het die lirieke vir die snit geïnspireer.

“Dit was ʼn moeilike tyd, maar die klank van die liedjie weerspieël my persoonlikheid, wat altyd grappe maak of pret het met moeilike onderwerpe,” vertel hy aan Maroela Media vanuit België.

“Die liedjie se klank laat my dink aan Kaapstad, waar ek grootgeword het,” sê die oud-Bellviller.

Stefan was in Suid-Afrika reeds meer as 12 jaar doenig in die musiekbedryf voordat hy na die buiteland verhuis het. Hoewel hy nie ʼn bekende naam in Suid-Afrika is nie, het hy die respek van ander musikante op tuisbodem verdien en het hy gereeld by Oppikoppi en ander musiekfeeste opgetree.

Daarom was die aanpassing in die Belgiese musiekbedryf nie te groot nie, sê Stefan. Hy het met die liedjie, “Vir nou/Voor nu” saam met Klaas Delrue onmiddellike erkenning in die Europese musiekbedryf gekry, en staan vandag bekend as die Vlaminge se “gunsteling Suid-Afrikaner”.

Die Nederlandse musiekfees, ‘Festival voor het Afrikaans’, noem hom een van die belangrikste rolspelers vir Afrikaanse musikante tussen Suid-Afrika, België en Nederland.

“Die bedryf in België is tot ʼn mate groter en meer georganiseerd , maar die mense is maar almal ʼn kopie van dieselfde soort mense in Suid-Afrika.

“In die eerste maand wat ek hier aangekom het, het ek op een van die grootste open mic-aande gesing en die helfte van die bedryf ontmoet. Ek het my bestuurder en besprekingsagent dieselfde aand ontmoet, asook Klaas Delrue, saam met wie ek later gereeld sou sing.”

Om sosiaal aan te pas was egter effe moeiliker, bieg hy. “Die mense hier is nie so oop soos Suid-Afrikaners nie. Hulle vat langer om te ontdooi en vriende te maak.”

“Vanaand gaan ons terug” is Stefan se eerste Afrikaanse enkelsnit-uitreiking sedert hy die land verlaat het.

“Ek gooi daarmee my hart met ʼn wye boog terug na my geboorteland.”

Hy beplan om volgende jaar die Strab-musiekfees in Mosambiek by te woon, waarna hy dan weer ʼn draai in Suid-Afrika wil maak.

“Ek wil egter seker maak ek vestig myself as kunstenaar in België, so ons sal sien hoe dinge uitwerk. België en die Vlaminge het my met ope arms ontvang, maar huis is tog mos maar waar die hart is.”

“Vanaand gaan ons terug” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Vanaand gaan ons terug”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.