Foto’s: Liefde in die lug by musiekfees

Elandré op die Liefde by die dam-verhoog. (Foto: Wayde Flowerday)

Gewoonlik pak die blues my op ’n Sondag net ná middagete beet.

Hierdie Sondag was daar egter geen gevoel van bedrukheid onder die blou Johannesburgse lug te bespeur nie – net vreugde, en natuurlik baie liefde.

Die immergewilde Liefde by die dam-musiekkonsert – genoem na Valiant Swart se bekende treffer met dieselfde naam – is terug en het gesorg vir die perfekte Sondag by die Emmarentiadam in Johannesburg saam met ’n goeie vriendin wat mal is oor musiek.

Hiér het ons op ’n lekker wintersdag in kortmoue op ’n kombers, met ’n bier in die hand, eers na Droomsindroom en Anton Goosen geluister voordat ons nadergestaan het vir Elandré.

Etlike honderde jong mense het voor die verhoog saamgedrom en saam gesing aan Elandré se jongste enkelsnit “Lieflik”. Die skare was daarna behoorlik aan die brand toe die klanke van die immergewilde “Vuur op die water” oor Emmarentiadam trek.

Karlien van Jaarsveld op die Liefde by die dam-verhoog. (Foto: Wayde Flowerday)

Robbie Wessels, Karlien van Jaarsveld, Riaan Benade en Jack Parow en Early B sou daarna volg. Liefde by die dam het ook ’n paar verassings ingehou met Kurt Darren, Biggy en Francois van Coke wat onverwags hul opwagting op die verhoog gemaak het.

Wat selfs lekkerder was as die musiek en die kos waaraan ons tussendeur gesmul het, was die atmosfeer. Duisende mense – jonk en oud – het op die grasperk aan die oewer van die dam saamgesing en sommige het sommer gedans.

Wat veronderstel was om ’n lekker tydverdryf vir ’n paar uur op ’n Sondag te wees, het in ’n hele dag saam met my vriendin geword aangesien ons eers teen skemer daaraan begin dink het om huis toe te gaan.

Besoek Liefde by die dam se Facebook-blad om uit te vind wanneer jy weer kan saamkuier vir nóg musiek. Ek weet ek gaan die blad dophou want Liefde by die dam sien my beslis weer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.