Irene-Louise se sokkielied betree Top-20

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabie)

Irene-Louise van Wyk se jongste sokkieliedjie, “Maak ’n plan”, betree vandeesweek die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die 19de plek.

Dié snit is Vrydag uitgereik en volg op haar vorige rits treffers, “Tekkies brand”, “Kuierleier” en “My volgende fout” saam met Jay.

“Ons het gesê ons moet ons wenresep [soos met ‘Tekkies brand’] vat en ʼn nuwe sokkieliedjie doen en dit is presies wat ‘Maak ʼn plan’ is. Dit is ʼn sokkieliedjie op steriods,” het Irene-Louise onlangs aan Maroela Media gesê.

“Maak ʼn plan” spog ook met ʼn splinternuwe musiekvideo wat deur Luther van der Watt van Yellow Lemon Media vervaardig en geskiet is. Die video het sedert Vrydag reeds bykans 22 000 kykbeurte op YouTube gekry.

Die jong sanger Eloff verloor weer sy no. 1-posisie op die top-20 met die oorwurm “Johnnie Blou” en val met een plek terug na die tweede plek.

Riaan Benadé en Jay se lied “Rowwe bliksem” was die afgelope week onder die top-50 mees gespeelde liedjies op Spotify en neem weer die eerste plek op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in.

In vandeesweek se Maroela Media Afrikaanse Top-20 is daar nege snitte wat styg, sewe wat daal en drie wat onveranderd bly asook een nuwe toetrede.

  1. Riaan Benadé & Jay – “Rowwe bliksem”
  2. Eloff  – “Johnnie Blou”
  3. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  4. Riaan Benadé – “Spontaan”
  5. Franja du Plessis – “Bring dit”
  6. Riaan Benadé – “Vat ’n bietjie”
  7. Eloff – “Geheueverlies”
  8. Appel – “Dina”
  9. Ruhan du Toit – “Ter wille van ons kinders”
  10. Demi Lee Moore – “Wie se hart breek jy vanaand”
  11. Brendan Peyper – “Stop die wêreld ek wil afklim”
  12. Kurt Darren – “Meisiesfontein”
  13. Bernice West – “Dink aan jou”
  14. Reën – “Vakansie op die platteland”
  15. Demi Lee Moore – “Kan jou nie my maak liefhê”
  16. Bernice West – “Hemel op aarde”
  17. Franja du Plessis – “My lief”
  18. Wikus Botma – “Brannewynlippe”
  19. Irene-Louise van Wyk – “Maak ’n plan”
  20. Ricus Nel – “Ploeg jy”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings:

Jacques Leonard het pas ’n nuwe liedjie, “Kry jou ry”, uitgereik. Jacques vertel op sy Facebook-blad: “Musiek is vir my meer as net ’n passie, dit is vir my ʼn roeping. Soms moet ʼn mens harde besluite neem om ’n sukses te maak van dit wat jy glo jy op hierdie aarde voor geplaas is.”

Jacques het “Kry jou ry” self geskryf en Janie Bay het handjie bygesit met die koorgedeelte.

Ander liedjies wat ook die week bekendgestel is, sluit in Gideon van Vollenstee se “Wag vir die antwoord”, Irene-Louise van Wyk se “Maak ’n plan”, Chereé se “Uit die blou”, C-Storm se “Môre sal die son weer skyn” en Jan-Daniël se “Wat ek gaan mis”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.