Klassieke musiek weerklink in Krugerwildtuin

“Classics in the Wild” is verlede jaar vir die eerste keer by Skukuza aangebied. (Foto: Verskaf)

Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees en die ereveldwagters van SANParke se Laeveldstreek bied vir die tweede jaar gesamentlik ʼn klassieke musiekkonsert aan om geld in te samel vir natuurbewaring in die Krugerwildtuin.

Classics in the Wild word aangebied by die Mdluli Safari Lodge naby die Numbi-hek. Die Apple Green Orchestra is onder leiding van Tim Roberts, met Sinesipho Mnyango, ʼn jong sopraan wat besig is om opgang te maak, as die solis.

Roberts is direkteur van die Johannesburg Bach-koor, ʼn bekende dirigent, die artistieke direkteur van die St. Frances-musiekfees wat jaarliks in Parktown, Johannesburg, gehou word en lid van die Phoenix Ensemble onder leiding van Richard Cock.

Cock is medesamesteller van Classics in the Wild. Werke van Strauss, Mozart, Bach, Puccini en Brahms is op die musiekspyskaart, asook dié van moderne komponiste Elton John, George Gershwin en selfs ABBA.

“Dit is vir Innibos heerlik om betrokke te wees by dié geldinsameling en om by te staan met die beplanning van die konsert. Die Krugerwildtuin is werklik ʼn toeriste-mekka, maar die belangrikste is die bewaringswerk wat nie altyd aan die groot klok gehang word nie en waartoe die Laeveldstreek se ereveldwagters ʼn reusebydrae lewer,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos.

Sinesipho Mnyango. (Foto: Verskaf)

Kaartjies vir die geleentheid beloop R1 150 per persoon en sluit ʼn verwelkomingsdrankie en peuselhappies in. Daar is ook ʼn kontantkroeg. Konsertgangers sal nie hul eie vervoer kan gebruik nie en ʼn pendeldiens van Mbombela (Nelspruit) is beskikbaar teen R150 per persoon. Vervoer is gratis van Skukuza en Pretoriuskop na Mdluli Safari Lodge.

Akkommodasie is beskikbaar in onder meer Skukuza, Pretoriuskop, Nkambeni Safari Camp en verskeie lodges in die omliggende dele van die Krugerwildtuin.

Verlede jaar is die kaartjies vir die optrede van die Schönbrunn-ensemble in Skukuza blitsig opgeraap en ʼn stewige geldelike bydrae tot die ereveldwagters se bewaringswerk in die Krugerwildtuin is gemaak.

“As hoofborg van die konsert is dit vir FNB belangrik om aktief betrokke te wees by omgewingsbewaring en die vrywillige werk van die ereveldwagters te ondersteun,” sê Graeme Cole, streekshoof van FNB se kommersiële bankwese.

Kaartjies vir die geleentheid is by Quicket te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.