Kunstenaar lewer ode aan SA boere oorsee

Logan Pietersen. (Foto: verskaf)

“Daar is soveel Suid-Afrikaners wat in die VSA boer, en elke keer as hulle hul tasse moet pak en op die vliegtuig moet klim, los hulle ʼn gesin hier agter.”

Só gesels Logan Pietersen (32), ʼn sanger wat met sy jongste enkelsnit, “Bring my terug (H2-A)”, juis ʼn ode aan diegene lewer wat hul tuisland vir die groener weivelde van ʼn ander land verruil het. Alhoewel Logan nog nooit self dié reusetog aangepak het nie, het hy al telkemale die pad lughawe toe aangedurf om maar net nog een van sy vriende daar af te laai.

Dié liedjie het intussen soos ʼn veldbrand versprei onder diegene wat hulself op ʼn plaas in Amerika bevind.

“Ek het in die laaste tyd soveel mooi boodskappe van boere en hul vroue af gekry. Baie van die ouens het al vir my gesê dat dié liedjie hul verlange blus wanneer dit begin moeilik raak.

“Dit is wonderlik om te weet dat jou musiek soveel vir mense kan beteken, so groot impak kan hê,” vertel hy.

Logan se liefde vir musiek speel ʼn alomteenwoordige rol in sy lewe. Inteendeel, skerts hy, het dié liefde reeds begin groei toe hy nog in sy ma se baarmoeder was.

Hy het grootgeword in ʼn huis wat daagliks met musiek gevul was, met sy pa en oupa wat dikwels kitaar gespeel en gesing het en sy ma wat klavier gespeel het. Sy oupa, onthou hy, het telkens sy eie instrumente gebou, iets wat hom vandag nog bybly wanneer hy self agter die mikrofoon inskuif.

Hy koester sy kinderherinneringe en grootwordjare in die klein Limpopo-dorpie, Mookgophong (Naboomspruit). Dit is juis in sy grootwordhuis waar sy pa elke Saterdagoggend sommer vroeg reeds die musiek laat vloei het.

“My pa het so groot ʼn verskeidenheid van musiek gehad waarna hy geluister het, dit het ʼn groot rol in my eie indruk van musiek gespeel,” sê Logan.

Kort voor lank, het Logan sy pa se liefde vir musiek begin deel. Hy het selfs in sy hoërskooljare kitaar onder die bome gesit en speel, sy passie bloot aangevuur met elke nuwe noot en liedjie wat hy leer speel het.

Vandag vorm musiek die grondslag van Logan se lewe.

“ʼn Mens wonder soms of jy op die regte loopbaanpad is, maar ek besef net elke dag weer en weer: ek is ongelooflik bevoorreg om te kan doen wat ek doen.”

Kyk die musiekvideo van “Bring my terug (H2-A)” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.